GEORGE NUUS - Al ooit daarvan gedroom om by die kundiges te leer oor die fynere kunsies van sport Belangstellendes kry op 12 Desember die geleentheid daarvoor. Dit is in aanloop tot die George Africa Tens Sport- en Leefstylfees wat van 15 tot 18 Desember aangebied word.
Die geleentheid word op 12 Desember van 10:00 tot 13:00 by Heatherlands High in George aangebied.
Juanita da Matta, een van die organiseerders van die fees, het Dinsdag gesê die hele uitgangspunt van die fees is om 'n verskil in mense se lewens te maak en om ontwikkeling in die gemeenskap te bevorder. "Hierdie kliniek is maar 'n klein aktiwiteit."
Dit staan bekend as die Africa Skills George TENS-afrigtingskliniek. "Ons is baie trots dat dit in samewerking met die SWD Arende aangebied gaan word. Anton Moolman en Zane Kirchner van die Arende se afrigtingspan gaan kom hand bysit en dis vir ons 'n enorme voorreg om saam met hulle te kan werk."
Ander bekendes in sportkringe soos Johan Kapp, Wynie Strydom en Heyneke Meyer sal ook gesig kom wys. Meyer is 'n voormalige afrigter van die Springbokke.
Volgens Da Matta is almal welkom. "Ons fokus 'n bietjie meer op skoliere, laerskole spesifiek, maar almal wat bietjie wil skouers skuur met die wat al op die hoogste vlak deelgeneem het, is baie welkom. Dit sluit in alle skoliere, of jy nou laerskool, hoërskool of student of afrigter is, kom gerus."
Sowat 200 deelnemers word verwag. Dis gratis, maar belangstellendes moet vooraf bywoning bevestig deur 'n e-pos te stuur aan admin@georgetens.co.za.
Sy het gesê reëlings vir die fees vorder goed. "Dis nou die laaste tydvak. So nou is dit voluit vorentoe. Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning wat ons van al ons borge en vrywilligers ontvang asook al die inskrywings wat al ontvang is.
"In die stadium is daar byna 50 spanne vir die rugby en die netbal. Die "trail run" en bergfietsry oortref alle verwagtinge. Ons is amper vol op die gholfdae."
Tydens die gholfdae sal legendes in die sportwêreld ook stokke swaai. Onder hulle is Victor Matfield en Anton Leonard.
Vanjaar het die fees ook iets anders. "Ons ook baie opgewonde oor ons aktiwiteite op Wilderness strand." Die boeresport en raakrugby op 16 Desember en vlugbal op 17 Desember is beslis iets om na uit te sien.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'