Sanlam het dié aankondiging by die Oubaai-gholfklub net buite George gemaak.
Die toernooi is die afgelope 17 jaar met groot welslae op Sanlameer aan die KwaZulu-Natalse Suidkus aangebied.
Gary van Loggerenberg, borgskapbe-stuurder van Sanlam, sê as sentimentele redes die enigste oorwegende faktor was, het dié uitdaagreeks wat nou allerweë as Suid-Afrika se grootste amateursporttoer-nooi beskou word, beslis op Sanlameer voortgegaan het.
"Maar daar is talle praktiese en ander logistieke implikasies hier ter sprake en ons het eintlik geen keuse gehad as om dit na ‘n meer sentrale baan te verskuif nie.
"Net aan reisonkostes gaan ons letterlik tienduisende rande bespaar, want die grootste gros spelers kan nou per bus na Sun City vervoer word. In die verlede het die meeste van die 110 finaliste na Durban gevlieg en vandaar met ‘n bus na Sanlameer gery."
Verbeelding aangryp
Die verandering na Sun City gaan ongetwyfeld die verbeelding van amateurs landwyd aangryp. Bittermin kry ooit die geleentheid om in die voetspore van gholfgrotes soos Seve Ballesteros, Bernard Langer, Nick Faldo, Ernie Els en Retief Goosen op twee van Suid-Afrika se topbane twee rondtes gholf te speel.
Vir diegene wat deurdring, wag daar ‘n paar verrassings.
Die Gary Player-baan se sukkelveld en Lost City se massiewe sandkuile sal menige amateur se vernuf tot die uiterste beproef.
"Die formaat van die Sanlam Kanker-uitdaagreeks bly dieselfde," sê Van Loggerenberg.
"Dit bly ‘n Stableford-kompetisie met die klubkompetisies wat in Maart afslaan gevolg deur die streekfinale in Julie en Augustus waar die finaliste kwalifiseer.
Verlede jaar het ‘n raps oor die 35 000 amateurs deelgeneem, maar met Sun City as lokaas gaan dié syfer hoër wees. Volgens Van Loggerenberg het 440 klubs reeds aangedui dat hulle vanjaar gaan deelneem.
Die geld wat tydens die klubkompetisies ingesamel word, word aan die Kan-kervereniging van Suid-Afrika geskenk. Van die geld sal na die onderskeie provinsies gekanaliseer word.
Foto's: Tanya Watson
.jpg)
Petro Heunis van Kansa (middel) kuier saam met die Sanlam George-span. Van links is Charmaine Langeveldt, Vinette Carstens, Beryl Barnard en Adwina Fourie.