Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Skooldogter van George, Luca Rafferty (12), het 'n gholfdag in Abuja, Nigerië gereël en so R16 000 ingesamel om bejaardes by Tuiniqua-versorgingsentrum en Huis JJ Watson te help.
Haar ouers en sy het voorheen in Abuja gewoon voordat hulle 'n paar jaar gelede na George verhuis het. Die familie het steeds noue bande met mense daar en van die gholfspelers is vriende van die familie.
Op 21 Augustus is die gholfdag toe by 'n plaaslike klub in Abuja met groot sukses aangebied. Luca het vir Tuiniqua gevra wat is hul behoeftes en met 'n deel van die geld is vyf stortstoele gekoop wat in die versorgingsafdeling aangewend gaan word. Die stortstoele is Maandag 26 September aan Tuiniqua oorhandig.
Huis JJ Watson het ook 'n lys van benodighede gestuur. Dit is reeds aangekoop en versprei danksy Luca se hulp. Dit sluit onder andere 'n bloedrukmasjien, breekware en waterdigte bedbedekkings in.
Luca, 'n gr. 6-leerling van Glenwood House, is al 'n tydjie betrokke by Tuiniqua waar sy as vrywilliger haar vrye tyd opoffer om bejaardes te help in die versorgingsafdeling. Sy beoog om later ook te help as vrywilliger by Huis JJ Watson.
Maandag 26 September, kort na die oorhandiging by Tuiniqua, het Luca met George Herald gepraat oor die bejaardes wat haar baie na aan die hart lê. Dit het begin as deel van 'n skoolprojek waar leerlinge onder meer kan uitreik na verdienstelike organisasies en instansies.
Sy het self 'n ouma en oupa en kan met hul behoeftes identifiseer. "Daar word soms van bejaardes vergeet," het sy vertel. Sy wou help en het begin uitreik na hulle. Sy is sedert Junie daarby betrokke.
Luca praat met bejaardes wat bedlêend en eensaam is. "Hulle is baie bly dat iemand bereid is met hulle te praat. Ek geniet dit en ek leer ook daaruit. Ons gesels in die algemeen en dit laat my goed voel dat ek iemand se dag kan maak. Nog 'n bonus is die verpleegpersoneel wat baie vriendelik en hulpvaardig is."
VIDEO: Leerder help bejaardes
So in die omgang met die bejaardes die afgelope paar maande, wou Luca meer doen as net gesels. Sy het besluit om 'n gholfdag te reël sodat geld ingesamel kan word om toerusting aan te koop.
Haar ma, Lesley Rafferty, het gesê sy is baie trots op haar dogter. "Dis fantasties dat die skool so 'n projek het wat uitreik na die gemeenskap."
Suster Saria van As, verpleegdiensbestuurder van Tuiniqua, het gesê dis wonderlik dat so 'n jong meisie 'n behoefte raakgesien het. "Ons het 'n dringende behoefte gehad en is baie dankbaar vir die hulp."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'