GEORGE NUUS - Vlakkiekrieket is besig om van krag tot krag te gaan en in gewildheid in George toe te neem. Minstens nege spanne neem nou aan die soort krieket deel. Dit is die sogenaamde 'straatkrieket' wat in openbare parke gespeel word.
Mafa Mgenge, 'n plaaslike organiseerder, het by navraag aan George Herald gesê dit word sedert verlede jaar in George gespeel, maar word reeds 'n tydjie in die Paarl en Oudtshoorn gespeel.
Aanvanklik was hier net vyf spanne betrokke, maar 'n volwaardige liga is intussen gevestig. Volgens Mgenge word dit beslis op dieselfde basis as gewone T20-wedstryde. Afhangende van die verloop van die spel, kan dit 'n paar uur aanhou. Daar word drie ure opsygesit vir 'n wedstryd.
Toeskouers word toegelaat en streng Covid-19-protokol word gevolg.
Die spel
Op die oomblik word daar net voorsiening gemaak vir seuns/mans van 13 jaar en ouer. Daar is selfs 'n span vir ouer/bejaarde spelers. 'n Krieketspan bestaan uit 11 lede, maar daar is 20 spelers in 'n groep.
Die wedstryde word met tennisballe gespeel en houtpalette dien as paaltjies. Gewone krieketkolwe word gebruik. By sommige van die parke word ou plastiese bottels geplaas om as grens te dien.
'n Kolwer trotseer 'n bal tydens 'n vlakkiekrieketwedstryd.
Positiewe impak
Mgenge het benadruk dat dit 'n baie positiewe impak het. "Dit gaan oor baie meer as net sport."
Dit gee die spelers 'n doel in die lewe en dit help om kriekettalent te ontdek, maar ook om die jeug van die strate te kry en iets produktief naweke te doen.
Daar is beslis talent onder die spelers en met die nodige afrigting kan hulle dit dalk nog ver bring. "Mens weet nooit. Dalk is daar nog 'n speler onder hulle wat eendag vir die Proteas speel."
Van die gemeenskappe wat betrokke is sluit in Borcherds, Parkdene, Rosemoor, Conville en Pacaltsdorp.
Spelers speel vlakkiekrieket.
Die spanne wat in die George liga speel, sluit in:
- Rosemoor Royal Strikers;
- Borcherds Legends;
- Borcherds Street Kings;
- B-Town Tigers;
- Conville United;
- Parkdene Royals;
- Parkdene Rising Stars;
- Sea-View Cricket Club en
- Golden Oldies.
'n Kolwer trotseer 'n bal tydens 'n vlakkiekrieketwedstryd.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'