GEORGE NUUS - Die afrigter van SWD-krieketspan sê hy wil sy spelers vrye teuels gee om dié komende naweek hul beste moontlike krieket voor hul tuisskare in die Afrikabeker T20-toernooi op te dis.
SWD is saam met vier swaargewigte, Noordelikes, Gauteng, Vrystaat en Zimbabwe, in groep B geloot. Die tien wedstryde in Groep B word van Vrydag tot Sondag in Oudtshoorn beslis.
"Hierdie is 'n groot geleentheid vir die spelers. Ons kyk daarna om opwindende krieket te speel, want dis waaroor T20-krieket gaan. Ons wil soveel vryheid moontlik aan die spelers gee om hulle op die veld uit te leef," sê Baakier Abrahams, nou 'n jaar in die tuig as SWD se hoofbreier.
Volgens hom weet hy nie wat 'n goeie totaal op die hoofveld, die Rec, se kolfblad gaan wees nie. "Ons het darem slim genoeg spelers om die toestande op te som en vas te stel wat 'n mededingende telling behoort te wees."
Abrahams sê hy is dankbaar teenoor die Cobras wat vier spelers - Zubayr Hamza, Aviwe Mgijima, Jason Smith en Tladi Bokako - 'n rukkie vroeër aan SWD beskikbaar gestel het. Hamza, veral, kan SWD aansienlik versterk. Hy het in sy laaste vier beurte vir Suid-Afrika se naasbestes teen Indië A in Indië in Julie en Augustus beurte van 93, 0, 63 and 104 nie uit nie gespeel.
"Die viertal is almal wedstrydwenners, maar ook goeie persoonlikhede en het goed by ons ingeskakel. Hierdie tipe toernooie gaan daaroor om 'n goeie spankultuur te vestig," sê Abrahams wat in 2016 die Oostelike Provinsie se hulpafrigter was toe dié span die Afrikabeker gewen het.
Benewens die OP was Noordelikes (2015) en KwaZulu-Natal Binneland (2017) die ander wenners van die toernooi.
Vanjaar se toernooi is na 20 spanne uitgebrei met vyf Afrika-spanne, Uganda, Namibië, Nigerië, Zimbabwe en Kenia, wat betrek is.
"Ons kry nie baie geleenthede om groot krieket aan te bied nie. Ons hoop om soos in 2016 - toe groepwedstryde en die uitspeelwedstryde aan Oudtshoorn toegeken is - dit weer professioneel aan te bied en hoop besoekende spanne sal met goeie herinneringe van Oudtshoorn praat," sê Albertus Kennedy, uitvoerende hoof van SWD-krieket.
Volgens hom kan 'n kolfstrook met vaart en wip op die Rec verwag word, anders as in die verlede toe dit gekenmerk is as een wat draaiboulers bevoordeel het. Toegang is gratis.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'