Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Groot afwagting heers vir die eindronde van twee vlakkie-krieketwedstryde wat Sondag in Delvillepark gespeel word. In die plaatfinaal wat om 11:00 begin, speel die Parkdene Royals teen die Parkdene Challengers en in die Cup-finaal sal Conville United kragte meet teen die Convent Bulldogs.
Vlakkiekrieketwedstryde word op dieselfde formaat as T20-wedstryde beslis met goeie kwaliteit tennisballe. Sondag se wedstryde vind in Delvillepark langs die laerskool plaas.
Dit word onder die vaandel van die George Rural Sports Development (GRSD) instansie gespeel. Dit is nou reeds in seisoen vier wat sowat twee jaar gelede deur die GRSD begin is.
Sammy Vorster, voorsitter van die GRSD, het Maandag gesê dis baie gewild en die spelers neem die wedstryde baie ernstig op.
Die gewildheid daarvan word bewys deur die groei. Dit is aanvanklik met vyf spanne begin. In seisoen twee was daar 11 spanne en in seisoen drie 18 spanne. Nou in seisoen vier is daar 24 spanne. Dit is reeds in al die gebiede behalwe in Blanco en die plan is om dit daarna- toe uit te brei.
VIDEO: Dis mos nou krieket
Volgens hom is daar nie baie aktiwiteite vir die jeug op 'n Sondagmiddag nie. Een van die redes vir die gewildheid is dat families en die jeug betrokke is.
Hy het gesê daar is beslis talent onder die spelers om na die volgende vlak te beweeg.
Mense kan betrokke raak en ook help. Hulle kan byvoorbeeld tweedehandse krieketkolwe en ander kriekettoerusting skenk. Toeskouers is welkom om Sondag se wedstryde by te woon.
Hulle kan Vorster bel by 078 703 1020. Hulle kan ook die sekretaris, Hayla Malgas kontak by 060 498 6080 of die bemarkingsbeampte Rayniel Salmans by 084 809 3501.
Ondersteuners tydens 'n vlakkiekrieketwedstryd die afgelope Sondag.
Toeskouers, ondersteuners en spelers na 'n vlakkiekrieketwedstryd die afgelope Sondag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'