SUID-KAAP NUUS - Groot opwinding heers in SWD-krieketgeledere vir Saterdag se Momentum Beker-eendagwedstryd tussen die krieketspanne van die WSB Cape Cobras en die Warriorsa op die REC in Oudtshoorn.
SWD het reeds verskeie wedstryde in die Sunfoil-vierdagreeks op Oudtshoorn aangebied, maar vanuit 'n toeskoueroogpunt is Saterdag se stryd 'n groot gebeurtenis.
"As aandeelhouer in Wes-Kaapse krieket was dit altyd ons strewe om hoëprofiel-wedstryde na Oudtshoorn te bring.
"Ons wil graag bewys dat ons gereed is om wedstryde op hierdie vlak aan te bied en ook om iets spesiaal vir ons ondersteuners na Oudtshoorn te bring," het Rudy Claassen, president van SWD-krieket, aan die George Herald gesê.
"Dit is werklik 'n opwindende dag vir SWD-krieket.
Met die RAM Slam Twintig20-reeks nou afgehandel, verskuif die professionele spanne se fokus na die eendagreeks. Hoewel internasionale sterre soos Vernon Philander, Hashim Amla en Temba Bavuma nie vir die Cobras beskikbaar is nie weens hul Protea-verpligtinge, bring die Cobras steeds 'n sterbelaaide span na Oudtshoorn.
'n Speler wat vir die SWD naam gemaak het en deesdae 'n groot held vir die Warriors is, Christiaan Jonker, sal ook in aksie wees.
Kaartjies vir die wedstryd is by die SWD-kantoor beskikbaar of kan op die wedstryddag by die hekke in Voortrekkerweg gekoop word.
Kaartjie-besprekings kan ook aanlyn by Ticketpro gedoen word. Toegang is R20 vir volwassenes en R10 vir kinders.
Navrae kan gerig word by 044 272 6604.
Die wedstryd begin om 10:00.
Die spanne is:
Cape Cobras (UIT): Andrew Puttick, Aviwe Mgijima, Dane Paterson, Dane Piedt, Dayyaan Galiem, George Linde, Jason Smith, Kyle Verreynne, Lizaad Williams, Pieter Malan, Qaasim Adams, Richard Levi, Simon Khomari, Stiaan Van Zyl, Tshepo Moreki, Zubayr Hamza, Jean-Paul Duminy, Wayne Parnell, Mthiwekhaya Nabe, Rory Kleinveldt, Ferisco Adams en Carlo Koyana.
Warriors: Gihan Cloete, Matthew Breetzke, Jon Jon Smuts, Colin Ackerman, Christiaan Jonker, Yasheen Vallie, Leslie Ngoepe, Andrew Birch, Ayabalule Gqamane, Anrich Nortje, Marco Marais en Clayton Bosch.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'