GEORGE NUUS - Die Six Gun Grill SWD-krieketspan is voluit aan die oefen vir die belangrike kwarteindstryd in Krieket Suid-Afrika (KSA) se T20-reeks teen Momentum Multiply Titans op 19 Oktober in Kimberley.
Die span het Maandag 4 Oktober begin oefen nadat hulle onlangs (die naweek van 23/25/26 September) vriend en vyand verras het deur met die Westelike Provinsie af te reken en bo die Lions te kwalifiseer.
SWD het saam met die Lions en die WP elk met agt punte in Groep A klaargemaak.
Albertus Kennedy, hoof- uitvoerende beampte van SWD-krieket, het Maandag aan George Herald gesê hulle is baie trots op die span en dit beteken baie vir krieket in die streek. "Dit was teen alle verwagtinge. Ons het wel gedink ons kan goed doen. Dit wys ons kan op 'n hoër vlak meeding. Dit vorm deel van ons Projek 2023."
Volgens Kennedy moet in gedagte gehou word dat die prestasie behaal is met spelers waarvan die meerderheid plaaslik is. Daar is wel 'n paar spelers van buite gekontrakteer om meer ervaring in die span te bring. Daar is natuurlik altyd die risiko dat van die spelers kan padgee.
Die salarisstruktuur van KSA is egter van so 'n aard dat as behoorlike kontraktering gedoen word, spelers behou kan word. Die spelers wil presteer en die gebied is ook 'n lokmiddel.
Volgens hom is dit vanjaar die eerste keer dat SWD 'n ankerborg saam met ander borge het. Die borge is baie tevrede want hulle het goeie blootstelling op televisie gekry.
SWD was nie een van die gunstelinge in die toernooi nie en met die vertonings het hulle baie ondersteuners in die res van die land gekry. Die reaksie op sosiale media wys dit. Dis ook verblydend daar soveel jong spelers in die span is. Baie van die spelers se ouderdomme wissel tussen 19 en 24 jaar. Die fokus verskuif nou na 17 Oktober.
Die spankaptein, Jean du Plessis (22), het gesê hulle het Maandag begin met die verfyning in hul voorbereidings. "Ons is gereed en glo ons kan wen."
Daar is verskeie faktore wat 'n rol speel in die span se sukses. Een van die grootste dinge is die samehorigheid in die span. "Daar is 'n goeie gees en die manne ondersteun mekaar." Die span het ook baie hard gewerk in die afseisoen.
"Ons het geglo in die vermoë van die span. Die grootste ding wat ons as span uit die toernooi geleer het is 'n wenkultuur. Ons mikpunt is om in die A-divisie oor twee jaar te wees. (Dit is die topagt spanne). Op die oomblik is SWD in die B-divisie."
Jean du Plessis, kaptein van die Six Gun Grill SWD-krieketspan in aksie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'