GEORGE KRIEKETNUUS - As die SWD Arende se versukkelde veldtog in die SuperSport-uitdaagreeks enige verdere afwaartse momentum optel, wag daar vir hulle 'n lang, droë seisoen op hande (met komplimente aan die bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer André P. Brink se puik werk 'n Droë (wit) seisoen.
Die Arende het verlede Saterdag in hul tweede wedstryd in dié uitdaagreeks in Port Elizabeth teen die OP Olifante met 59-31 vasgeval. In hul afskopwedstryd teen die Westelike Provinsie is hulle met 62-7 oorrompel.
Ná twee wedstryde is altesame 112 punte teen hulle opgestapel en kon die Suid-Kapenaars slegs 38 punte bymekaarskraap. En die krieketseisoen is haas op 'n einde..
Eerskomende Sondag pak die Arende Zimbabwe om 14:00 in Mosselbaai op die D'Almeida-sportstadion. Dié Akademie-span is self in 'n taai wedloop met die Arende gewikkel om as die melkkoeie in die kompetisie gekroon te word. Dis straks die Arende se beste kans om hul wendroogte in die uitdaagreeks te verbreek en hulle sal gemotiveerd wees om die verlooretiket af te skud.
Of die Arende weer met hoofsaaklik klubspelers op die veld gaan draf, is onseker. Die span was met druktyd nog nie beskikbaar nie. Trouens, om insae in 'n lys van beskikbare (gekontrakteerde) spelers te kry, is 'n saak van gebed.
In 'n voorwedstryd om 10:00 pak George vir Barbarians in wat beloof om 'n taai tweestryd te wees. George het verlede Saterdag in die MicFin-klubkompetisie teen Heidelberg op hul tuisveld met 28-21 vasgeval en hulle sal wil vergoed vir die "tydelike insinking" in die opwaartse kurwe wat dié nuwelingklub in die Premierliga se spel belewe.
Teen Heidelberg moes George sonder vier gereelde eerstespanspelers klaarkom waaronder sy puik oud-Arende skrumskakel, Johan Steyn, Christopher Richardson, wat vir die Valke op haker uitgedraf het, en die puik vleuel, Elton Olivier. Maar dis eerder weer twyfelagtige skeidsregterbeslissings wat George gekelder het. Met eentonige reëlmaat is strafskoppe aan Heidelberg toegestaan met George in 'n baie sterk aanvallende posisie. Net so is George gestraf sodra die tuisspan binne trefafstand van die pale was.
Blanco, wat nou self mooi op dreef is en weekliks verbeter, sal sy storie moet ken om 'n begeesterde Heidelberg dus op sy tuisveld te klop.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'