Pacs United se boulers en kolwers het met 'n bykans perfekte vertoning saamgespan om die besoekers tot oorgawe te dwing.
Mario Pedro, die tuisspan se besielende kaptein, het die loot gewen en besluit om tog eerste te kolf op 'n baanblad vol lewe en wip. Dit was die regte besluit want Ruall de Reuck (79) en Michael Eksteen (26) het behoorlik gewoeker onder die besoekers se boulers en hulle bra middelmatig laat lyk. Veral De Reuck was verwoestend en met 'n bietjie meer geduld kon hy waarskynlik 'n honderdtal behaal het.
Die draaibalbouler Bertie Davids, het ook 'n skaflike bydrae met die kolf gelewer en die tuisspan gehelp om 179 lopies in hul toegelate 50 beurte op te stapel.
Vir Sussex het A Plaatjies (3/26) en G Plaatjies (3/38) met die bal uitgeblink.
Maar toe slaan Pasc se boulers toe, met hul goëlaar Davids aan die spits, en boender die besoekers vir 'n skrale 76 lopies uit. Davids was soms onspeelbaar en sy 4/17 vertel nie die volle verhaal van sy sensasionele boulskof nie.
Oudergewoonte het Pedro (3/22) ook sy merk gemaak. Ditto die Pacs-sneltrein, Marchell Willeman (2/24) wat gehelp het om Sussex gou-gou tot oorgawe te dwing.
De Reuck en Davids is vir hul puik individuele bydraes verdienstelik as die gesamentlike spelers van die wedstryd aangewys.
Pacs reis Saterdag na Mosselbaai waar hy die tuisspan in 'n belangrike T20-wedstryd in die Van Riebeeck-stadion aandurf. Spel begin om 10:00.
Sien nog foto's hier.
Pacs United se Ricardo Conradie trek weg op nog 'n lopie teen die besoekende Sussex.
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'