Gallery Video
GEORGE ATLETIEK NUUS EN VIDEO - Dit was beslis moeiliker as die regte Comrades, sê Eddie Mouton, die man wat Sondag 13 Junie eerste van die deelnemers aan die Tuinroete/SWD se eie Comrades in Wilderness klaargemaak het.
Hy en 'n groep van sowat 40 deelnemers het Sondagoggend 05:30 in Brenton-on-Sea by Knysna weggespring. Deelnemers kon kies tussen 45 km en 90 km.
Die meerderheid deelnemers het die 45 km gehardloop wat by Karatara klaargemaak het. Mouton en 'n ander kleiner groep het tot in Wilderness gehardloop.
Die wedlope was deel van die Comrades Marathon Centenary Hope Challenge en is gehou as vieringe vir die 100-jarige herdenking van die Comrades. Die organiseerders van die geleentheid was Diana Mouton, Eddie Mouton en Alta Zeelie van Nedbank ASWD.
Ook op ander plekke het soortgelyke geleenthede plaasgevind. In George het atlete om 07:00 deelgeneem aan 'n 21 km-wedloop en om 07:30 aan 'n 10 km-wedloop.
Die 48-jarige Mouton is natuurlik iemand wat weet waarvan hy praat want hy het al 25 formele Comrades voltooi en na Sondag, twee virtuele Comrades. Sondag was sy tyd 8 uur en 40 minute.
Volgens Mouton was daar Sondag baie klimme en sowat 60% was grondpad wat ander uitdagings gestel het. "Dis baie moeiliker om op 'n grondpad te hardloop as op 'n teerpad."
Kyk 'n video hieronder:
In die gewone Comrades klim deelnemers sowat 1 500 tot 1 600 meter in totaal en Sondag was dit sowat 2 000 meter.
Twee deelnemers, wat die volle Comrades tot in Wilderness gehardloop het, Samuel Mandlazi en Willard Jussa kon nie uitgepraat raak oor die ondervinding nie. Hulle het dit in 9 uur en 15 minute voltooi en was dit eens dat hulle dit baie geniet het.
Mandlazi het al verskeie maratons gehardloop en dié was sy tweede virtuele Comrades. Hy het dit as 'n baie moeilike roete beskryf.
Jussa het gesê die moeilikste deel was toe hy by die halfpadmerk gekom het.
Van die atlete maak gereed om weg te spring by Brenton-on-Sea.
Annetjie Botes van George, wat die 45 km tot by Karatara voltooi het, het gesê die weer het saamgespeel. Sy het klaargemaak in sowat 4 uur en 11 minute. "Daar was 'n hele paar bultjies, maar dit was baie lekker," het sy gesê.
Rob de Reuck van Wilderness (4 uur 27 minute) het gesê dit was aangenaam, maar moeilik. "Die bulte was 'n uitdaging."
Fotogalery: "Comrades" begin by Brenton-on-Sea in 2021
Wilhelm Lodewyk van Mosselbaai (4 uur 27 minute) het gesê was 'n bietjie moeilik.
Zeelie, wat self die 45 km wedloop voltooi het, het gesê dit was een van die moeilikste wedlope waaraan sy nog ooit deelgeneem het.
Volgens haar was die geleentheid 'n groot sukses. Al was dit nie gehou op die oorspronklike roete van Pietermaritzburg na Durban nie, het die wedloop gesorg dat die atlete gevoel het hulle was in ware gees daar en alles gegee wat hulle kon om die wedloop te voltooi. Anel van Wyk het eerste klaargemaak in die 45 km-wedloop in 'n tyd van 4 uur 9 minute.
Die groep atlete in George wat aan die 21 km-wedloop deelgeneem het, kort voor die wegspring. Foto: Eugene Gunning
Vorige artikel: Atlete neem deel aan 'Comrades Marathon'
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'