SUID-KAAP NUUS - Altesame 537 atlete van 14 provinsies het in Pretoria aan die 43ste Sport Warehouse Suid-Afrikaanse tweekampkampioenskappe deelgeneem.
Die SWD-span van 66 lede het met 3 goue, 2 silwer- en 1 bronsmedalje teruggekeer. Die junior span was algeheel vierde. Die WP het Gauteng-Noord naelskraap geklop om weer as die SA kampioen gekroon te word met Boland derde en SWD sesde.
En om die kersie op die koek te plaas, het die Kwaggas die hoërskole-kompetisie gewen om as Suid-Afrika se toptweekampskool gekroon te word. Laerskool Knysna het ook goed gepresteer en 'n vierde plek in die laerskole-kompetisie behaal.
Die medaljewenners was:
Matthew van Coller: goud S/13 2404 punte; Gustav Schlechter: goud S/17 2367; Minke Janse van Rensburg: goud S/N 3091; Ruben Gouws: silwer S/9 2461; Johan Windt: silwer meesters 2412; Lara Schlechter: brons D/19 2381.
Ander puik prestasies is gelewer deur:
Karli Lotter D/9 2360 4de; Jade Borrett D/17 2274 5de; Zhane Vorster D19 2236 5de; André Kleynhans S/19 2246 6de; Eddie Lutsch Meesters 2073 7de; Chris van Wyk Veterane 2344 8ste; Marius Schlechter snr Veterane 2195 8ste; Lume Gouws D/11 2353 8ste.
Op die algemene jaarvergadering van SWD-tweekamp is die naamsverandering goedgekeur en dit sal nou as Eden-tweekamp bekendstaan. Die SWD-voorsitter, Stephnie McKay, is ook as 'n nasionale keurder verkies. Die 2020 SA kampioenskappe is ook aan Oudtshoorn toegeken.
Seuns o.17 en o.19 en seniors sal in die toekoms ook 1600 m in stede van 2000 m hardloop.
Die 2019 SA kampioenskappe sal in Port Elizabeth plaasvind.
Matthew van Coller het goud verwerf in die ouderdomsgroep vir seuns o.13.
Minke Janse van Rensburg het goud gebuit by die SA tweekampkampioenskappe.
Hoërskool Outeniqua is as die toptweekampskool in Suid-Afrika gekroon nadat hulle die hoërskole-kompetisie by die SA tweekamp-kampioenskappe in Pretoria gewen het. Die Kwagga-span se kapteine is van links: Gustav Schlechter, André Kleynhans en Lara Schlechter.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'