GEORGE NUUS - Vyftien atlete van Atletiek SWD (ASWD) het Sondag aan die Kaapstad-marathon deelgeneem.
Die Keniaanse langasem Edwin Koech het die 42,2 km in 'n wentyd van 2:09:20 afgelê.
Die Suid-Afrikaanse Olimpiese atleet Elroy Gelant, 'n boorling en oudleerder van Hoërskool Outeniqua, was die eerste Suid-Afrikaner oor die eindstreep. Hy was algeheel vierde met 'n tyd van 2:10:31.
Dit was slegs die 33-jarige Gelant se tweede marathon waaraan hy deelgeneem het. Hiermee het hy die Suid-Afrikaanse titel gewen. Sy tyd plaas hom op koers om volgende jaar vir die Olimpiese Spele in Japan te kwalifiseer.
Net drie atlete sal SA in 2020 in die marathon in Tokio verteenwoordig. Atletiek Suid-Afrika (ASA) se kwalifiserende tyd vir mansatlete is 2:11:30 wat Gelant reeds aangeteken het. Gelant het SA in 2016 by die Olimpiese Spele in die 5 000 m verteenwoordig, maar dit wil lyk of hy hom nou op die marathon gaan toespits.
Foto: Verskaf
Span ASWD het oor die algeheel goed gevaar en twee kampioene opgelewer: Annatjie Botes in die afdeling vir grootmeesters en Lindile Tekota in die meestermansafdeling. In die spankompetisie was albei die mans- en vroueveterane vierde.
Die spanlede van Atletiek SWD (ASWD) wat Sondag aan die Kaapstad-marathon deelgeneem het is agter, van links: André Niemand, Arthur Valasis, Anton Chevalier, Lindile Tekota, Esmé Boshoff, Annatjie Botes, Alison Jordaan, Claire Robertson en Cecelia Nel. Middel: Johann du Preez, Selwyn Losper, Nerida Lubbe. Voor: André Barnardo, Joey Klaasen, Principal Fana, Kobus Boshoff en Melikhaya Msizi.
Die tye van die SWD-atlete wat deelneem het, is as volg:
1. Lindile Tekota (2.31.37)
2. 2. Principal Fana (2.44.38)
3. Melikhaya Msizi (2.44.52)
4. Kobus Boshoff (2.57.30)
5. Joey Klassen (2.58.28)
6. Anton Chevalier (3.11.17)
7. Cecelia Nel (3.13.17)
8. Claire Roberton (3.20.11)
9. Selwyn Losper (3.20.56)
10. Annatjie Botes (3.27.55)
11. Nerida Lubbe (3.31.40)
12. Alison Jordaan (3.40.32)
13. Arthur Valisis (3.44.04)
14. André Barnardo (4.01.15)
15. André Niemand (4.22.35).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'