TUINROETE NUUS - Die jaarlikse PetroSA-padwedlope word eerskomende Saterdag by die Santos-karavaanpark in Mosselbaai aangebied.
Die wedloop lok jaarliks atlete van sover as Kenia en spog met van die grootste prysgeld in Suid-Afrika.
Atlete kan deelneem aan 'n 42,2 km, 21,1 km, 10 km en 'n kort pretloop.
As gevolg van padwerke is die 42,2 km-roete aangepas. Die eerste gedeelte van die wedloop is onveranderd, maar met die tweede deel hardloop atlete na Brandwag en terug. Tye kan moontlik vinniger wees.
Die 21,1 km en 10 km is onveranderd.
Die eerste man en vrou oor die 42,2 km-eindstreep steek R60 000 in hul sak terwyl die atlete wat in die tiende plek klaarmaak R1 000 ontvang.
In die 21,1 km is die prysgeld R10 000 vir die eerste man en vrou en dié in die vyfde plek kry R2 000. In die 10 km is die prysgeld R5 000 vir die eerste man en vrou en die vyfde plek sal R700 ontvang.
Voorafinskrywings het reeds gesluit, maar laatinskrywings kan Vrydagmiddag 5 Oktober vanaf 14:00 tot 21:00 gemaak word.
Inskrywingsgeld is R90 vir die 10 km, R105 vir die 21,1 km en R130 vir die 42,2 km. Dit kos R30 om aan die pretloop deel te neem.
Tydelike lisensiegelde vir nie-klubatlete beloop R35.
Alle atlete wat die wedlope binne die afsnytyd voltooi sal medaljes ontvang. Daar is geskenksakke is vir die eerste 1 000 atlete en daar is ook heelwat gelukstrekkings.
Vir navrae bel Moses Gericke 082 763 7974 of Shireen Noble 083 319 1218.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'