GEORGE ATLETIEKNUUS - Jare gelede, as eerstejaarstudent aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (Kovsies), het ek Abrie de Swardt die eerste keer ontmoet.
Hy en sy groot mentor en hoofatletiek-afrigter by Kovsies, Kaai Preller, in hul sweetpakke met gevoude arms, besig om topatlete soos Sarina Cronjé, Nico Nicolaisen en Van Zyl Naudé te bearbei en aan te moedig. Dié prentjie doem nou nog helder in my gedagtes op.
Ons weë skei toe ek die pad vat Maties toe, waar Abrie later ook diep spore sou trap.
Na 'n lang onderbreking loop ek weer in hom vas in George in 2012, toe ek as sportredakteur by George Herald inval. Hoewel ons intussen elkeen sy eie pad gestap het en tot 'n groot mate kontak verloor het, was die weerontmoeting in ons koerantkantoor veel meer as 'n blye herontmoeting. Trouens, dit was asof daar geen onderbreking van enige aard was nie. Dit was lekker om weer die drade op te tel.
Kort voor sy tragiese dood het ons telefonies oor 'n artikel oor sy sportloopbaan gesels. Abrie se afsluitingswoorde was sy gebruiklike, "Ons moet 'n koffietjie gaan drink."
En op Saterdag 15 Augustus, tydens 'n roei-aflosbyeenkoms by Hoërskool Outeniqua ten bate van liefdadigheid, het Abrie sy laaste wedloop op aarde voltooi. Hoe gepas vir iemand wat sy lewe vir sport opgeoffer het.
Dis moeilik om iets neer te pen oor iemand met wie jy nie die spreekwoordelike sak sout saam opgeëet het nie. Daarvoor is daar in Suid-Afrika - en in die buiteland - talle mense wat beter toegerus is om dit goed te doen. Ek sal my verlaat op sy omvattende notas oor sy sportloopbaan en ook op die krummels persoonlike ervaring wat ek bevoorreg was om met hom te deel.
Met sy lewe en sy sterwe het Abrie de Swardt vir hom 'n ereplek uitgekerf in veral atletiekkringe in Suid-Afrika. Wat hy as atletiek- en sportafrigter bereik het, is legio. As sportadministrateur en in die akademie het hy eweneens diep spore getrap.
Abrie was onbeskaamd eerlik in sy siening oor die grootste mentors in sy lewe: "Ek glo die Skepper en my grootste mentor, Jesus Christus, het hulle op my lewenspad geplaas."
Die sewe mentors wat sy loopbaan as afrigter gevorm het, was van SA se grootste atletiekgeeste soos Ivor Potgieter, prof. De Villiers Lambrecht, Kaai Preller, Wium Mostert en Steve Rautenbach. En internasionaal gerespekteerde atletiekgrootkoppe soos dr. Frand Dick en John Velican.
Beginloopbaan in George (1996 - 1974)
Abrie se afrigtersloopbaan het in 1969 as 'n 20-jarige by Hoërskool Outeniqua begin. Een van sy eerste atlete, Freddie Bartlett, het toe op die SA junior kampioenskappe 'n bronsmedalje in die 800 m vir seuns o.17 gewen.
Abrie het terselfdertyd die SWD en die WP in atletiek en landloop verteenwoordig. Binne die strukture van die destydse Wes-Kaapse Vereniging van Atletiekafrigters was hy van 1971 af by talle streek- en provinsiale afrigtingskursusse en klinieke in middel- en langafstandnommers betrokke en het hy met afrigtingreuse soos Owen van Niekerk, Jon Short, Gert Potgieter, Preller en prof. Hannes Botha gewerk.
Kovsies (1975 - 1983)
Na vyf vormingsjare in die SWD, die WP en veral op Stellenbosch as student en afrigter, verhuis Abrie in 1975 na Bloemfontein en aanvaar 'n betrekking by die Vereniging van Christelike Hoër Onderwys. Kaai Preller van die Buro vir Ontwikkeling en Openbare Betrekkinge by Kovsies, nader Abrie toe om as mede-afrigter vir middel- en langafstandatlete, saam met De Villiers Lamprecht, op te tree. Dié vennootskap duur nege jaar waartydens die Kovsies se mans- en vrouespanne die atletiektoneel oorheers.
Suid-Afrikaanse Atletiekunie (SAAU: 1983 - 1984)
Nadat hy vir 'n jaar aan die Hoërskool Sand du Plessis skoolgehou het, aanvaar Abrie die pos van nasionale afrigtingsorganiseerder by SAAU in Pretoria. Sy taak was om atletiekafrigters en 'n afrigtingstruktuur landwyd en ook in Namibië te ontwikkel en uit te bou. Hy moes ook by provinsiale en nasionale kursusse, klinieke en simposiums die voortou neem.
Hier kruis sy paaie met ander atletiekgrotes soos Gert le Roux, Chris Botes en Cheryl Winn, almal destyds huishoudelike name in SA atletiek.
Onderwyskollege Goudstad, Johannesburg (1985 - 1993)
Abrie begin hier werk as senior lektor en hoof van atletiek by die kollege-sportburo. In 1984 trou hy met Sharon Coetzee, wat hy 'n jaar tevore by 'n atletiekkurus in Oos-Londen ontmoet het. Die Goudstad-kollege word binne vier jaar, van 1989 - 1991, een van die topdrie atletiekklubs in die land.
George (1994 - 2020)
Abrie en sy gesin verhuis na George waar hy grootgeword het. Hier tel sy internasionale atletiekloopbaan momentum op en word hy deur die Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) vir die volgende 18 jaar ingespan om met die opleiding van atletiekafrigters wêreldwyd te help.
Hy besoek meer as 30 lande, onder andere Kenia, Mauritius, Australië, Kanada, Engeland, Griekeland en Puerto Rico.
Tydens die Olimpiese Spele in Athene in 2004 is sy bydrae tot afrigting deur die Internasionale Vereniging van Atletiek-afrigters met 'n spesiale toekenning vereer.
Afrigter en administrateur
Abrie het atletiek in SA in topstrukture op provinsiale en streekvlak gedien.
Onder die talle hoogtepunte in sy loopbaan tel:
- 1975 - 1993: Bestuur van SA Vereniging van Atletiekafrigters
- 1996 - 2006: Afrigtingskomitee en landloopkommissie van Atletiek SA; nasionale landloop-, baan- en veldkeurder
- 1994 - 2000: Visepresident Atletiek SWD
- 2000 - 2006: President Atletiek SWD
- 2012 - 2016: Spoedafrigter van SWD Arende se rugbyspan
- 2012 - 2018: Bestuurslid SWD/Eden-sportakademie
Van 1992 tot 2006 was Abrie by meer as 30 geleenthede, wat die Olimpiese Spele, die Wêreldkampioenskappe, die Statebondspele en die Afrika Spele insluit, Atletiek SA se afrigter of bestuurder van SA atletiek-, landloop- en padwedloopspanne.
Abrie was ook 24 jaar 'n senior lektor by die Port Elizabeth Technikon en die Nelson Mandela Universiteit (George-kampus) asook die plaaslike kampus van die Exercise Teachers Academy (eta).
Sy lewe sal 'n inspirasie bly vir diegene wat agterbly sowel as vir dié wat volg.
Verwante artikels:
- Totsiens Abrie
- Volg Abrie se begrafnis aanlyn
- Abrie de Swardt - Gentleman wat graag help
- Talle bring hulde aan Abrie
- Abrie de Swardt oorlede
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'