GEORGE SPORT NUUS - Vir die 2021 SA vrouespiesgooi-kampioen, Jo-Ane van Dyk, is deelname aan die Olimpiese Spele 'n kleintyddroom wat waar geword het.
Die 23-jarige Van Dyk kom oorspronklik van Heidelberg en het later haar skoolloop-baan aan Hoërskool Outeniqua in George voltooi.
Sy het Dinsdag 20 Julie na Japan vertrek waar sy Suid-Afrika in die vrouespiesgooi verteenwoordig. Na skool het sy dieet-kunde aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer en sy werk deesdae daar in die beroepsrigting.
Sy het nog steeds bande met die Suid-Kaap en haar ouers boer in die Heidelberg-gebied.
Dis die eerste keer dat sy aan die Olimpiese Spele deelneem. Sy moes eers getoets word vir Covid-19 en gelukkig was die uitslag negatief.
Jo-Ane van Dyk in aksie.
Om in spiesgooi te presteer is nie vir haar vreemd nie. Sy was in 2016 tweede by die junior wêreldkampioenskappe. Vanjaar is sy die nasionale kampioen en sy het al verskeie kere nasionale klere verwerf.
Sy het vroeg in Julie vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer. Die afgelope tyd het sy hard geoefen en het onder meer in Europa aan byeenkomste deelgeneem.
Sy is opgewonde en kan nie wag dat die Spele begin sodat sy kan deelneem nie. Die feit dat toeskouers nie toegelaat word nie, is nie 'n probleem nie.
Die uitdunrondes vir die spiesgooi is op 3 Augustus en op 6 Augustus vind die eindronde plaas. Sy hoop om die eindronde te haal en onder die top-10 klaar te maak. "Ek hoop ek doen goed en doen beter as my persoonlike beste van 61,9 m." Haar deelname sien sy ook as 'n geleentheid om ondervinding op te doen. "Ek het niks om te verloor nie en alles om te wen."
Jo-Ane van Dyk in aksie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'