GEORGE NUUS - Die 17-jarige Meike Strydom, 'n gr. 12-leerder by Hoërskool Outeniqua, het Donderdagaand die Suid-Kaap se vlag hoog laat wapper by die Ruimsig-stadion in Johannesburg.
Die stukkie goud van die Coastline-atletiekklub, wat in Atletiek SWD se kleure deelgeneem het, het by die eerste been van die Grand Prix-atletiekreeks die gewigstoot vir opevroue met 'n puik afstand van 15,96 m gewen.
Met die oorwinning het sy R20 000 in die sak gesteek.
Meike het na die byeenkoms aan die George Herald gesê: "Ek het nie verwag om te wen nie, maar die prestasie wat ek bereik het sou nie moontlik gewees het sonder die Here se genade nie.
"Ek is baie tevrede met my wenafstand en ek weet dat ek steeds beter kan doen en dat ek net moet aanhou oefen en my alles moet gee. Om aan te hou is nie altyd maklik nie, maar as jy wil bo uit kom is dit 'n moet.
"My doelwit vir die jaar is om moontlik aan die wêreld junior kampioenskappe te gaan deelneem."
Strydom het die seisoen rekords opgestel by verskeie byeenkomste waar sy ook die beste individuele prestasies behaal en aangewys is as beste atleet van dié byeenkomste.
Sy het gedurende November 2017 'n nuwe SA rekord van 17,75 m vir vroue o.18 opgestel en kan vanjaar vir die vyfde jaar agtereenvolgens die SA junior en SA jeugtitels inpalm.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'