GEORGE NUUS - Nieteenstaande die uitdaging van Covid-19 het landloopatlete van die SWD gewys waartoe hulle in staat is by die nasionale landloopkampioenskappe wat verlede naweek (17 en 18 September) in Durban deur Atletiek SA aangebied is.
Shireen Noble, president van SWD-atletiek, het gesê 'n span van 35 atlete en ses spanbestuurslede is gestuur. "Die span het redelik goed gevaar gesien in die lig van die Covid-19-inperking. Ons kon net drie landloopligas en 'n kampioenskap aanbied en uit hierdie byeenkomste kon ons 'n span saamstel."
SWD het goeie plaaslike atlete, maar as gevolg van die huidige situasie kon hulle nie wys waartoe hulle regtig in staat is nie. "Van die atlete het die potensiaal om dit ver te kan bring."
Noble het gesê as gevolg van die Covid-19-situasie en die stygende getalle in KwaZulu-Natal was daar baie onsekerheid of die kampioenskappe wel sou plaasvind. Atletiek SWD het met die nodige inligting 'n span gekies tussen die ouderdomme 14 en 49 jaar. In die laaste omsendskrywe is die ouderdomme 8 tot 13 jaar ook bygevoeg.
Volgens Noble is Atletiek SWD baie bly dat die kampioenskappe kon plaasvind. Dit het die atlete die nodige blootstelling op nasionale vlak gegee. "Baie dank gaan aan die landloopkommissie, ouers, atlete, tegniese beamptes, toesighouers en spanbestuurders vir u volgehoue ondersteuning."
Die toptien uitslae vir die (8-13 jaar) is as volg:
S10 Tristan Meyer, brons (7:45); D12 Caitlyn Cawood, 4de (11:53); Annabelle McEwan, 5de (12:14) en S12 Jac du Plessis, 4de (11:04); B17 Rico van der Horst 10de (20:21) en Tyon-Lee Andries 18de (21:00); S14 Danwille Willemse, brons (13:42); S15 Beyon Prins, 16de (14:24), D16 en Mursha Robbenson, 12de (16:36).
SWD gaan beslis 'n span stuur om deel te neem aan die Suid-Afrikaanse maratonkampioenskappe wat op 17 Oktober in Kaapstad plaasvind. Meer besonderhede sal later bekend gemaak word.
SWD se span by die nasionale landloopkampioenskappe wat in Durban aangebied is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'