GEORGE ATLETIEK-NUUS - Die SWD spog weer met 'n Suid-Afrikaanse padkampioen. Annatjie Botes het 'n meesterlike vertoning by die afgelope Suid-Afrikaanse halfmarathon (21,1 km) in Port Elizabeth gelewer deur die afdeling vir grootmeesters (60-66 jaar) te wen.
Botes het die 21,1 km-padwedloop in 'n uitstekende tyd van 92.16 voltooi.
Die wedloop het van die beste 21,1 km- atlete uit Suid-Afrika sowel as Afrika getrek. Hoewel die byeenkoms geslote was, het atlete van Kenia, Lesotho en Namibië in die ope kategorie deelgeneem.
In die senior mansafdeling het die 2017-kampioen, Stephen Mokoka, sy titel suksesvol verdedig in 'n tyd van 61.44. Die eerste senior vrou was Mamorailo Tjoka van Lesotho met 'n tyd van 71.46.
Die bekende oud-Kwagga Elroy Galant, wat terug was ná beserings, was tweede by dié byeenkoms in die vierde plek in die opeafdeling met 'n tyd van 61.48.
Lloyd Bosman van George, wat aan sy eerste SA byeenkoms in 'n lang tyd deelgeneem het, het hom goed van sy taak gekwyt deur 'n 63.42 te hardloop om in die 18de plek klaar te maak.
Die SWD-atletiekspan wat in Port Elizabeth aan die Suid-Afrikaanse halfmarathon-padkampioenskappe deelgeneem het. Die span se T-hemde is deur Ters Gillomee van Top Gear Sport geborg. Agter, van links: Duppie du Preez (spanbestuurder ), Anton Chevalier, Alison Jordaan, Lloyd Bosman, Cecilla Nel, Esme Boshoff (spanbeampte ), Nancy Cloete, Godwin Heyns en Nerida Lubbe. Voor: Patrick Peters, Annatjie Botes, Melissa van Rensburg en Principal Fana. Afwesig: Sidwell Oktober.
Die ander uitslae is as volg:
Godwin Heyns (seniors in 71.04); Principal Fana (veterane mans 45-49 in 74.45); Patrick Peters (meester mans 55-59 in 82.10); Melissa van Rensburg (sub veterane vroue in 83.54); Anton Chevalier (meester mans 50-54 in 85.03); Nancy Cloete (senior vroue in 88.40); Nerida Lubbe (veterane vroue 40-44 in 93.04); Alison Jordaan (meester vroue 50-54 in 1.41.00); Sidwell Oktober (grootmeester mans 60-64).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'