GEORGE NEWS - Lloyd Bosman van die Nedbank SWD-atletiekklub, het weer sy meesterskap in padlope bevestig deur nie nét een nie, maar twee 10 km-wedlope gedurende die langnaweek te wen.
Op Maandag 18 Junie het hy die gewilde McDonald's to McDonald's-wedren met 'n tyd van 0:31:26, gewen, en op Saterdag 15 Junie het hy die Palm Tyres 10 km-wedloop in 'n tyd van 0:29:11 kafgedraf. (Sien berig hieronder.)
"Ek dink dit was baie goeie voorbereiding vir die komende naweek se Knysna-marathon (21 km). Ek sien regtig uit na die naweek en verwag sterk kompetisie van die jongmanne af.
"Knysna is soos my tweede huis. My ouma en oupa is van Knysna so ek kom al daar van klein dae af," sê Bosman.
Francois Maquassa en Selwyn Matthews, albei ook van Nedbank SWD, het tweede en derde plekke in die McDonald's to McDonald's-manswedloop behaal en Erna-Mari Conradie van die Paarl was die eerste vrou oor die wenstreep.
Kort op haar hakke was Melissa van Rensburg van Nedbank SWD en Nikki Walter van die Knysna-marathonklub.
Dié wedren het vanjaar meer as 540 atlete gelok.
Melissa van Rensburg (0:40:08) het ook 'n eerste plek in die Palm Tyres-wedloop behaal.
'n Verligte Erna-Mari Conradie hardloop oor die wenstreep.
Johanna Claassen (voor) met Annatjie Botes kort op haar hakke. Aubrey Brinkhuys (in blou) hardloop langs Botes.
Sowat 540 atlete het aan vanjaar se McDonald's to McDonald's-wedloop deelgeneem.‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’