GEORGE ATLETIEKNUUS - Lloyd Bosman (links) en John April, albei van Nedbank, het Saterdagoggend uitstaande prestasies gelewer by die gewilde Momentum Cape Times Knysna-bosmarathon.
Die bosmarathon was deel van die jaarlikse Oesterfees in Knysna.
Die marathon (42,2 km) en halfmarathon (21,1 km) het
6 000 deelnemers gelok het is deur Knysna Marathon-atletiekklub aangebied.
Die 29-jarige Bosman het sy segetog voortgesit toe hy die halfmarathon in 1:06.10 gewen het. In 2013, 2014 en 2016 was hy ook baas in die wedloop. Lloyd se nuwe roete-rekord van 2013 (1:03.11) is nog nie verbeter nie.
"Ek is baie bly dat ek dit kon regkry om vir die vierde keer die wedloop te wen. Ek het goeie ondersteuning van my spanmaats gekry. Dit was vriesend koud by die wegspring in die bos, maar soos die wedloop gevorder het, het dit warmer geword. Ek moet die organiseerders 'n pluimpie gee dat die roete geensins nat was nie en dit was in die beste omstandighede wat ek die afgelope paar jaar in deelgeneem het," het Bosman na die wedloop aan die George Herald gesê.
Bosman se spanmaats, Ettienne Plaatjies (1:08.03) en Godwin Heyns (1:08.42) was onderskeidelik tweede en vierde oor die wenstreep.
Sidwell Oktober (1:38.44) van Rainbow-atletiekklub was die tweede grootmeester, Pieter Jaehne (1:33.25) van Grasshoppers Outeniqua Harriers was die derde meestersatleet. David Oreilly (2:13.31) van Nedbank en Nic Brummer (2:23.56) van Sedgefield Striders was onderskeidelik eerste en tweede in die groot-grootmeestersafdeling.
Melissa van Rensburg (1:25.34) van Nedbank SWD was die derde vrou oor die wenstreep. Haar spanmaat, Annatjie Botes (1:36.49) het die grootmeestersafdeling gewen, Christie Smit (2:03.49) van Hartenbos-Drawwers was derde in die veterane-afdeling.
April het ook Nedbank SWD se vlag hoog laat wapper toe hy die marathon in (2:34.48) gewen het.
Lindile Tokota (2:54.24) van Nedbank SWD was die eerste meester en Rob de Reuck (3:43.12) van Grasshoppers Outeniqua Harriers en Arthur Valasis (3:58.35) van Knysna-marathonklub was onderskeidelik tweede en derde oor die wenstreep in die grootmeestersafdeling.
Nancy Cloete (3:25.27) van Grashoppers Outeniqua Harriers en die veteraan Devera Maxsen (3:50.07) van Nedbank was onderskeidelik vierde en vyfde in die opeafdeling vir vroue.
Jacquiline Kabokane (3:57.15) van Nedbank was eerste oor die wenstreep in die meestersafdeling.
Helpers deel water en koeldranke uit aan die atlete wat deelgeneem het.
Helpers het voor die begin van die Knysna-bosmarathon komberse aan die atlete uitgedeel om hulle teen die snerpende koue te beskerm.
Die klomp atlete tree aan vir die begin van die Knysna-bosmarathon.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'