Gallery Update
GEORGE NUUS - Die 18-jarige Elwich van Wyk, gr. 12-leerder by Van Kervel in George, het Saterdagoggend Atletiek SWD se vlag hoog laat wapper by die Suid-Afrikaanse padstapkampioenskappe wat in Pacaltsdorp plaasgevind het.
Die byeenkoms is suksesvol deur Atletiek SWD in samewerking met Atletiek Suid-Afrika aangebied.
Daar het 184 stappers aan die kampioenskappe deelgeneem.
Die SA rekordhouers, Anel Oosthuizen en Lebogang Shange het toe nie deelgeneem nie.
Van Wyk het 'n uitsonderlike prestasie behaal toe hy die 10 km vir opemans in 'n tyd van (48:05) gewen het. Hy is 'n talentvolle stapper wat na verwagting nog diep spore kan trap in SA padstap.
"My mikpunt is om Suid-Afrika in 2020 by die Olimpiese Spele te gaan verteenwoordig.
"Ek besef daar is nog harde werk wat voorlê, maar ek is gereed vir die uitdaging," het hy na die byeenkoms aan die George Herald gesê.
Elwich se spanmaats, Bradley Carelse (50:39) vyfde, Antonio Farmer (51:44) sewende en Maxwell Brown (57:40) sewentiende het hom gevolg.
Mthunzi Mnisi van Gauteng-Noord het die 50 km vir opemans in (4:36.40) gewen en Natalie le Roux (4:54.33) van KZN het die afdeling vir opevroue ingepalm.
Mnisi se spanmaats, Siziwe Ndebele (1:28.07) en Zelda Schultz (1:51.38) het onderskeidelik die opemans en vroueafdelings gewen.
Die 92-jarige Cecily Rootenberg van Sentraal- Gauteng het vir 'n groot prestasie gesorg toe sy die 20 km stap vir opevroue in 03:53.41 voltooi het.
Cecily Rootenberg van Sentraal-Gauteng het die 20 km stap vir ope-vroue in 03:53.41 voltooi.
Dit was die eerste dame bo 90 jaar wat ooit so 'n afstand kon voltooi.
Sy gaan aanstaande jaar aan die Meesters Wêreldkampioenskappe in Spanje deelneem.
Nog 'n atleet van Sentraal- Gauteng, Lesley van Buuren (57:06), het die afdeling vir opevroue in die 10 km gewen. Die 19-jarige Liezel van Wyk (1:08.19) van ASWD was 11de oor die eindstreep.
Die 5 km is deur die 15-jarige Bheki Mnyamane (25:06) van Gauteng-Noord gewen. Die 14-jarige Durando Aweries (25:57) was vierde.
Die afdeling vir vroue is deur die 17-jarige Hilda du Toit (27:56) van Boland ingepalm met die 16-jarige Nolene van Rensburg (28:52) van ASWD die naaswenner.
Die ASWD-atlete Eugene Noordman (16:29) en Shaun-dre Weila (16:32) het die 3 km oorheers.
Lebogang Shange, SA kampioenstapper, staan hier tweede van links saam met Moses Gericke, president van ASWD, by twee van die puik atlete, Bradley Carelse (links) en Elwich van Wyk. Foto's: Anton Gericke
Die 13-jarige Shané Webb (17:48) was die tweede dame. Die 1 km-ontwikkelingstap is deur die 9-jarige ASWD-atlete, Ashton Grootboom (5:25) en Chikuru Squire (5:48) gewen.
Die 10-jarige Xaveiria Tekana (5:26), 10-jarige Hilliry Witbooi (6:00) en 9-jarige Keysha Swartz (6:04), almal van ASWD, het die dogtersafdeling oorheers.
Lees 'n vorige artikel: Padstapkampioenskappe in George
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'