GEORGE NEWS - Na meer as drie dekades in die klaskamer en die skoolterrein, neem Kobus Koekemoer afskeid van Hoërskool Tegniese Skool Eden (HTS Eden) met ’n nalatenskap wat diep spore gelaat het. Van werkswinkels tot bestuurskantore het hy nie net ’n skool help vorm nie, maar ook generasies jongmense toegerus met vaardighede vir die toekoms.
In retrospek
Koekemoer, skoolhoof van HTS Eden, het onlangs na 36 jaar as onderwyser en 33 jaar by die skool vervroegde pensioen aanvaar.
Hy het sy lewe en passie in die onderwys uitgeleef en was deel van menige veranderinge by die skool, wat oorspronklik as HTS PW Botha bekendgestaan het.
In 1993 toe hy daar begin werk het, is dit na PW Botha Kollege verander. Die beheerraad het later besluit om die naam na HTS Eden te verander.
Hy het aanvanklik klas gegee in paswerk en masjinering, en ingenieursgrafika en -ontwerp. Later, toe hy gevoel het hy stagneer, het hy verder in rekenaarstudie gaan studeer en in 2001 ’n verdere onderwysdiploma in Stellenbosch verwerf. Dit het baie ure se werk en deursettingsvermoë vereis aangesien hy terselfdertyd as onderwyser en koshuisvader gewerk het. Daar is vereis dat hy 12 weke van die jaar kontaksessies bywoon, maar hy het hard gewerk en baie goed geslaag.
Van 2000 tot 2005 het hy ingenieursgrafika en -ontwerp en rekenaarstudie aangebied. “Wat baie keer die rooster laat bots het,” grap hy. Daarna het hy van 2006 tot 2014 rekenaartoepassingstegnologie aangebied en is in 2014 as tegniese departementshoof aangestel. In 2017 is hy as onderhoof aangestel.
Die Covid-jaar
In 2020, tydens die Covid-jaar, het oudskoolhoof Pieter Myburgh met siekteverlof gegaan en aan die einde van die jaar afgetree. Koekemoer is as waarnemende skoolhoof aangestel en het die pos beklee totdat hy in Oktober 2021 permanent aangestel is.
Hy vertel dat 2020 ’n “rollercoaster” was met al die protokolle wat gevolg moes word, tesame met die verantwoordelikhede van die hoofskap.
“Dit was veeleisend vir almal, maar met die ondersteuning van die kollegas het ons dit gemaak,” sê hy.
Opwindende vooruitsigte vir HTS Eden
Hoewel hy afgetree het, is Koekemoer steeds tot die einde van die jaar by die matriekgroep betrokke. Deel van sy ooreenkoms met die departement vir die aanvaarding van sy vervroegde pensioen is om die jaar saam met die matrikulante klaar te maak sodat hulle nie sonder ’n onderwyser sit nie.
Hy is baie opgewonde oor die feit dat HTS Eden onlangs deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement genader is vir die “revitalisation”-program vir tegniese onderwys.
“Ons skool is reeds die afgelope vyf jaar vir gr. 8 en 9 deel van ’n afskopprogram vir tegniese onderwys, maar die revitalization-program is vir die hele pakket van tegniese onderwys. Die fokus is om skole toe te rus met toerusting wat in die industrie gebruik word en ook om tegniese onderwysers op te skerp en nuwe tegniese onderwysers te werf. Hulle is so skaars soos hoendertande,” sê hy.
“Tegniese vaardighede is een ding wat kunsmatige intelligensie (KI) nie gaan oorneem nie.”
Die toerusting is daarop gemik om leerders te help en hul belangstelling te prikkel, asook om die stigma rondom tegniese onderwys te breek. Om ’n oorpak te dra beteken nie jy is minderwaardig nie. Die blou stofjasse beskerm klere en hou leerders veilig. Daar is talle velde, veral in wiskunde, wetenskap en ingenieursgrafika en -ontwerp, wat tegniese vaardighede ontsluit vir beroepe wat nie deur KI vervang kan word nie. Tegniese vaardighede skep werk en geleenthede vir entrepreneurskap.
Op die vraag oor die grootste leemte in die tegniese veld sê hy: “Om prosesse vinniger, makliker en meer koste effektief te maak. As ’n voorbeeld, daar is mense nodig om die masjiene te ontwerp. Die klem moet nie op handearbeid wees nie, maar op vaardigheid. As ’n masjien breek moet dit steeds reggemaak word met die toepassing van tegniese kennis.”
Hoogtepunte
Een van die grootste hoogtepunte van sy loopbaan bly die impak op leerders. “Die feit dat ’n ou ’n verskil gemaak het in ’n kind se lewe. Dit klink soos ’n cliché, maar op die ou end is dit wat die grootste bevrediging gee. Dit is wonderlik om te sien, nie net die leerders wat ingenieurs geword het of hul eie besighede begin het nie, maar ook die leerders wat vandag vir hul gesinne kan sorg. Dit maak die uitdagings die moeite werd.”
Koekemoer het ook vir 21 jaar as koshuisvader gewerk. Hy het vir baie kinders ’n vaderfiguur geword, terwyl sy vrou as ’n moederfiguur opgetree het. Hoewel dit soms uitdagend vir hul eie kinders was, onthou sy dogter ook die goeie tye en hoe haar maatjies haar leer fietsry het.
Hy geniet dit ook om passievolle onderwysers te sien ontwikkel. “Ek sien myself as ’n stuk gereedskap vir mense wat belangstel en wil leer en ontwikkel. Onderwys dek ’n groot spektrum en is selde net oor wat jy in jou vakgebied oordra.”
Wyshede en waarhede
Op die vraag wat mense oor kinders miskyk, sê hy: “’n Kind is soos ’n spons. As jy vir ’n kind ’n voorbeeld stel en wys hoe dit werk, sal hy dit doen. Dit is nie wat jy sê nie, dit is wat jy doen wat saak maak.”
Hy wys ook daarop dat die wanpersepsie bestaan dat tegniese onderwys net vir kinders is wat goed is met hul hande. Dit is nie waar nie. wiskunde, wetenskap, redenasie en die integrasie van kennis met praktiese werk is van kardinale belang.
Hy is hoopvol oor die revitalization-program, veral die fokus op samewerking met die industrie. Een van die eerste vennootskappe waaroor hy opgewonde is, is met Africa Skills. Die visie is om tegniese skole weer op die kaart te plaas en aan ouers en leerders te wys dat dit ’n waardevolle loopbaanroete is wat werksgeleenthede skep.
Nuwe dae, nuwe dinge
Wat die toekoms betref, sê hy: “Tans gaan ek klas gee, en tussendeur sien ek na my vrou om wat onlangs ’n groot voetoperasie ondergaan het. Ek kry die tuin in orde en ons beplan ’n reis saam met vriende.”
Sy passie vir houtwerk wag ook. “Daar is baie projekte wat lê en wag.
Die opgradering van my vrou se naaldwerkkamer lê en wag,” grap hy.
Hy geniet dit om sy volle aandag aan die matriekgroep te gee sonder die administratiewe verantwoordelikhede van ’n skoolhoof, maar bevestig dat hy nie na die jaar gaan aanbly nie. “Dit is tyd om die vaandel oor te gee. Daar is jong mense wat reg is om oor te neem.”
Sy loopbaan het tot vol sirkel gekom, aangesien hy self in ’n tegniese skool was en sy eerste pos as onderwyser by sy alma mater beklee het, waar John Lubbe sy mentor was.e
Kyk verby die stigma
Met ’n boodskap uit sy hart sê hy:
“Ek wil vir die ouers en die kinders sê, kyk verby die stigma wat aan tegniese onderwys kleef. As ek net George vat, hoeveel van hulle het hul eie besighede, hoeveel het begin met ’n vakleerlingskap en is vandag entrepreneurs, hoeveel werk in die buiteland en ontvang toekennings vir hul prestasies. Ons weet van hulle. Kyk verby die stigma. Almal kan nie prokureurs word nie. As jy ’n vaardigheid met ’n kwalifikasie agter jou naam kan sit, sal jy nie terugkyk nie. Daar is ’n toekoms.
Aan alle onderwysers wat tans skool hou: I salute you, it is not easy. Onderwys is nie grappies nie, ek haal my hoed vir julle af.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’