OPINIE - "Het jy my lief? vra Alice. Nee, ek is nie lief vir jou nie! antwoord die Wit Konyn. Alice frons en vou haar hande saam soos sy maak wanneer sy seergemaak voel. Sien? sê die Wit Konyn.
Nou gaan jy jouself begin afvra wat maak jou so onvolmaak en wat het jy verkeerd gedoen sodat ek jou nie ten minste 'n bietjie kan liefhê nie. Jy weet, dis hoekom ek jou nie kan liefhê nie.
Jy sal nie altyd geliefd wees nie, Alice, daar sal dae wees wanneer ander moeg en verveeld sal wees met die lewe, hul koppe in die wolke sal hê en jou sal seermaak.
Omdat mense so is, maak hulle op die een of ander manier altyd mekaar se gevoelens seer, hetsy deur agterlosigheid, misverstand of konflik met hulself. As jy nie jouself lief het nie, ten minste 'n bietjie, as jy nie 'n wapenrusting van selfliefde en geluk om jou hart skep nie, sal die ergernis wat deur ander veroorsaak word, dodelik word en jou vernietig."
Ek het onlangs die uittreksel van Alice in Wonderland vir my dogters, Anoux en Lienke gegee om te lees. Tydens my grootword jare het die lig vir kinders nie noodwendig op onderwerpe soos selfliefde geskyn nie. Die sisteem van daardie jare het ander prestasies geëis. Goeie akademiese punte en kinders wat gesien maar nie gehoor word nie, om maar net twee te noem.
Ek onthou die deurbraak oomblik in my eie verkenningstog en soeke na selfliefde, toe ek al 'n ma van twee was.
Op die spesifieke dag het ek en 'n mentor gesels waarna sy 'n spieël in my hande gedruk het, met die opdragvraag: "Wanneer laas het jy jouself in die oë gekyk?"
Sy het weggestap en ek het alleen met die spieël in my hande bly sit. Daar was niks anders om na te staar as myself nie.
Ek sal dit altyd onthou as een van my mees onbewaakte en weerlooste oomblikke.
Die Wit Konyn was ongenaakbaar in sy woorde teenoor Alice, maar hy is heeltemal reg.
Daar is wel 'n verskil tussen selfsug, narsisme en selfliefde. Indien jy die kuns kan vervolmaak om laasgenoemde te omarm, kan jy dit as jou grootste prestasie ag.
In die joernalistiek sien ons dikwels die teenoorgestelde van selfliefde, want mense wat nie hulself lief het nie, self nie eens net 'n bietjie nie, maak ander gewoonlik seer.
Dit het harde en dikwels uitgerekte lewenslesse gekos voor ek regtig die konsep van selfliefde begin verstaan het.
Dit is nie iets wat jy sommer net onder die knie kry as jy nie in so 'n sisteem groot word en van kindsbeen af dit leer, soos ek my eie kinders probeer leer nie. Deur my dogters die dialoog tussen Alice en die Wit Konyn te laat lees, gaan ook nie noodwendig vir hulle insig bring nie. Dit is 'n proses en 'n gewoonte wat gekweek moet word.
Mag ons sag wees met mekaar maar veral met onsself tydens die laaste dae van dié jaar. Skep spasies vir geliefdes waar hulle vry is van verwagtinge, en waar dieselfde kan geld vir jou.
Mag ons in die nuwe jaar in vertrekke leef wat stil is van opinies en kritiek, in onsself en by ander.
En wanneer laas het jy jouself in die oë kyk?
Onbeskaamd.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.