GEORGE NUUS - Die sooispitseremonie van 'n nuwe behuisingsontwikkeling by Golden Valley, Blanco is op Woensdag 29 Augustus deur raadslede, amptenare en lede van die Blanco-gemeenskap bygewoon. Die Golden Valley-projek bestaan uit 165 behuisingsgeleenthede.
Blanconaar Johannes Williams, het die seremonie met gebed en 'n kort boodskap geopen.
Die direkteur van behuising, Charles Lubbe, het gesê, die George-munisipaliteit strewe om alle informele nedersettings binne sy grense te verander in meer formele behuising, om mense se lewensomstandighede te verbeter.
"Wat hierdie projek so uniek maak is dat die projek ook voorsiening gaan maak vir gesinne wie se inkomste R3 500 per maand oorskry." Daar gaan 140 topstrukture gebou word vir persone wat minder as R3 500 verdien en 25 gedienste erwe vir persone jonger as 35 jaar en gesinne wie se inkomste R3 500 oorskry. 'n Twee slaapkamer 45m² huis gaan gebou word met elektrisiteit en warm water.
Burgemeester Melvin Naik het gesê: "Die munisipaliteit sal beslis toesien dat die kontrakteurs in Blanco werk kry in die projek."
Hy het ook gemaan dat die sukses van die projek grootliks afhang van die samewerking tussen die gemeenskap en die kontrakteurs. Hy het beloof om formeel die eerste huis in die projek oor te gee.
Twee kontrakteurs, PHP Supplies en Makhara Holdings is aangestel om die 140 topstrukture te bou. Konstruksie sal eersdaags begin sodra alle formele prosesse afgehandel is.
Melvin Naik (middel) spit die eerste sooi van die Blanco-behuisingsprojek in Golden Valley. Saam met hom is amptenary, raadslede en lede van die gemeenskap.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'