Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Dit is belangrik dat mense seker maak hul persoonlike inligting op die onderskeie behuisingsdatabanke is korrek. So het Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, gesê na afloop van sy besoek die afgelope naweek.
'n Behuisingsdatabasis opdaterings- en registrasienaweek is in George deur sy departement in samewerking met die George-munisipaliteit gehou. Dit was 'n proeflopie vir soortgelyke geleenthede wat in Oktober en November regoor die provinsie by alle munisipaliteite gehou gaan word. Dit was 'n geleentheid om sisteme te toets en alles het goed afgeloop.
Volgens Simmers was dit na die naweek duidelik dat dit nie uitgesluit is dat sommige mense geleenthede in die verlede gemis het, omdat hulle kontak- en persoonlike besonderhede nie op datum was nie.
Hy is tevrede met die afgelope naweek se aktiwiteite. Dit het Saterdag afgeskop en is Sondag voortgesit.
Inwoners kon een van sewe punte besoek. Dit het ingesluit Kidstop, Rosedale-gemeenskapsaal, St. Mary's Rooms-Katolieke skool, Laerskool New Dawn Park, Laerskool Thembalethu, die behuisingskantore by die munisipale kantore in die stadskern en Laerskool Tyholorha.
Simmers het gesê George is gekies vir die proeflopie as gevolg van sy diverse populasie en sy komponente van stedelik en landelik. "Ons het 'n diverse groep geteiken."
By baie van die punte was lang toue en meer as 3 000 mense het opgedaag.
Kyk 'n video hieronder:
Hy het al die punte besoek en met van die mense persoonlik gesels. "Ek was aangenaam verras oor die hoeveelheid mense wat opgedaag het. Die opkoms by al die punte was baie goed."
Die geleenthede is ook gebruik om mense in te lig oor die onderskeie produkte van sy departement.
Dit was vir hom duidelik daar is frustrasie by sommige. Een van die grootste frustrasies wat van die mense geopper het, is dat hulle al 10 tot 15 jaar op 'n lys is. In baie gevalle het mense in sulke gevalle se kontakbesonderhede verander en dit is nooit opgedateer nie. Tussen 40% en 45% van die mense wat opgedaag het, het die geleentheid gebruik om hul besonderhede op te dateer.
Baie van die mense was ook nie bewus van die verskeidenheid produkte van sy departement waarvoor hulle kwalifiseer nie.
Simmers het gesê die inligting wat bekom is word nou gekorreleer en geanaliseer vir toekomstige doeleindes.
Daar is lesse geleer uit die proeflopie. Dit sal gebruik word vir die provinsiale registrasienaweke in Oktober en November. Die datums daarvan sal later bekend gemaak word. Die Wes-Kaap is die eerste provinsie wat so iets aanbied. Die mikpunt is om 'n akkurate prentjie van die behuisingsituasie in die provinsie te kry.
Lees 'n vorige artikel: Behuisingsdata verifikasie-veldtog dié naweek
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'