GEORGE NUUS - Dit was 'n belewenis en interessant. So het Eleanore Bouw-Spies, DA-parlementslid vertel oor die eerste keer wat sy die opening van die parlement in Kaapstad in haar nuwe hoedanigheid bygewoon het.
"Dit was goed om LP's op 'n ander wyse as 'n kantoor-hoedanigheid te sien," het sy gesê.
Sy is in Mei vanjaar tot LP verkies en was tot voor dit die speaker van die Garden Route-distriksmunisipaliteit. Bouw-Spies is deur haar eggenoot, Rowan Spies, na die opening van die parlement vergesel. Hy het pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede uit die openbare galery gevolg.
Bouw-Spies, wat oorspronklik van Knysna is, was die naweek in haar tuisdorp. Toe die George Herald haar gekontak het was sy weer op pad terug na Kaapstad, waar die werksaamhede van die parlement nou in alle êrens begin. Sy gaan voortaan 'n pendel-bestaan tussen Knysna en Kaapstad voer.
Sy was baie opgewonde om die opening by te woon. Sy het wel bygevoeg: "Dis nie wat ek verwag het nie. Dalk het ek meer verwag van die inhoud van pres. Ramaphosa se toespraak. Dit sal sekerlik ter sprake kom in die debatte wat volg."
Sy het verwag dat hy byvoorbeeld meer besonderhede bekend sou gemaak het oor jeugontwikkeling en werkskepping vir die jeug.
Bouw-Spies het benadruk dat sy baie uitsien na haar werk as LP en daar is harde tye wat nou wag. "Ek kan nie wag dat dit begin nie." Die werklike werk as LP begin nou.
Sy is intussen aangewys as die DA-kiesafdelingshoof vir Oudtshoorn en sy is ook gekies om op die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) te dien.
Sy sien daarna uit om saam met die mense in die kiesafdeling van Oudtshoorn te werk. "Ek wil graag 'n goeie LP wees en werk in die Oudtshoorn-kiesafdeling. Ek wil aktief optree."
Laetitia Arries van die EFF in George het gesê sy moet die party se protokol nakom en toestemming kry voordat sy met die media mag praat.
ANC-parlementslid Spokuhle Patrein van Thembalethu, George, het gesê sy kan nie praat nie. Sy is op pad na die parlement.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'