GEORGE NUUS - Die tussenverkiesing vir wyk 3 is op hande. Inwoners van Heatherlands, Heatherpark, Glen Barrie en King George Park kan hul identiteitsdokumente reg hou vir Woensdag 21 November wanneer hulle stem benodig word. Dit volg na die bedanking van Rassie de Villiers as wyksraadslid vroeër vanjaar.
Die stemlokaal is by die Outeniqua-rolbalklub en is oop van 08:00 tot 17:00.
Vier politieke partye gaan aan die tussenverkiesing deelneem, naamlik die ACDP (African Christian Democratic Party), DA (Demokratiese Alliansie), EFF (Economic Freedom Fighters) en VF Plus (Vryheidsfront Plus). Hier volg 'n opsomming van die onderskeie kandidate wat graag in dié wyk wil dien. Inligting is deur die partye self verskaf. Geen bruikbare agtergrondinligting is teen druktyd oor die kandidaat van die EFF ontvang nie.
ACDP Johan du Toit:
Johan du Toit is vir die afgelope 16 jaar 'n trotse inwoner van wyk 3. Hy en sy vrou, Shannon, is al 45 jaar getroud en hulle het drie dogters en sewe kleinkinders. "Ek is in die voltydse bediening as pastoor, vanaf 1984, en dien sodoende alreeds die gemeenskap vir 28 jaar op geestelike en morele gebied. Ek het my Doctor Of Divinity-graad op 8 November 2010 verwerf en bied daarom my dienste aan die gemeenskap om u te dien met integriteit en deursigtigheid."
Du Toit dien die afgelope agt jaar as 'n raadslid vir George-munisipaliteit. Vir vyf jaar was hy die voorsitter van MPAC (2011 - 2016). Hy was ook burgemeesterskomiteelid vir Eden-distriksmunisipaliteit (2011 - 2016) met die portefeulje strategiese dienste.
ACDP Johan du Toit.
"Een van die mees belangrike beginsels is om bedrog en korrupsie wortel en tak uit te roei en so vermorste fondse aan te wend om ons buitensporige belastings te verminder," het Du Toit gesê. "Ons senior burgers oor 60 sal ook na omgesien word met spesiale verlaagde belastings."
DA Erika Brown:
Brown woon die afgelope 20 jaar in Heatherpark en is die DA-takkomitee se ondervoorsitter vir wyk 3. Sy het 'n meesters-graad in politieke wetenskap en 'n nagraadse onder-wyssertifikaat. Brown is betrokke by 'n ondersteuningsgroep vir onderwys in minderbevoorregte gemeenskappe. Sy is getroud met Sid Brown vir die afgelope 25 jaar en hulle het twee seuns, Walter en Byron. Brown is 'n boekwurm en bekend vir haar betrokkenheid by gemeenskapsdiens.
DA Erika Brown
"Ek glo sterk dat ons betrokke moet wees in ons gemeenskappe, sodat Suid-Afrika kan floreer. Ek wil voortgaan om my gemeenskap te dien en effektiewe dienslewering vir almal te verseker," het Brown gesê.
"Ek sal saam met die munisipaliteit werk om wyk 3 skoon, groen en veilig te hou. Ek wil 'n sterk burgerlike samelewing vestig met die hulp van ons plaaslike buurtwag, omgewingsgroepe en liefdadigheidsorganisasies.
"Ek sal my beywer vir groter samewerking tussen die gemeenskap, buurtwagte, polisie en munisipale wetstoepassers om ons veiligheid te verbeter."
EFF Richard Sedi.
VF Plus Marthinus (Martiens) Erasmus:
Martiens Erasmus is op 11 September 1953 in die Hoëveld van Mpumalanga gebore waar hy op 'n plaas grootgeword het.
Aangesien sy pa geboer het, was dit 'n logiese keuse om landboukunde te studeer.
"Ek is tans betrokke by 'n klein konstruksie onderneming en werk met 'n deursnit van ons bevolking," het Erasmus gesê. "Ek het grootgeword in 'n politieke huis in die tyd van Nat, Sap en Prog. Toe die geleentheid hom voordoen om betrokke te raak is ek verkies tot onderburgemeester van Carolina en later verkies tot lid van die stadsraad se bestuurskomitee."
"Ek sien myself as die raad se gewete sou ek verkies word. Dit kom somtyds voor asof alles oor die eie handel, en die party waarvan jy 'n lid is, in stede van die belang van die mense in die wyk." Erasmus onderneem om inwoners se belange eerste te stel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'