GEORGE POLITIEK-NUUS - "Een van die grootste uitdagings wat nou wag, is die munisipale verkiesings," sê Tertuis Simmers (38) die nuwe adjunkleier van die DA in die Wes-Kaap.
Simmers is Saterdag 21 Augustus tydens 'n vergadering van die DA se provinsiale raad in die Wes-Kaap tot die belangrike pos verkies in die plek van Albert Fritz wat 'n tydjie gelede tot provinsiale leier verkies is. Hy is die jongste persoon ooit wat tot DA adjunkleier in die provinsie verkies is.
Simmers het Maandag aan George Herald gesê dit is 'n groot taak en daar is verskeie uitdagings wat wag, waaronder die munisipale verkiesing.
Motiveer kiesers
Hy beskou die plaaslike regeringsverkiesing as baie belangrik en dit is om verskeie redes 'n uitdaging. Kiesers moet gemotiveer word om te gaan stem. Kiesers moet ook die belangrikheid van hul stemme besef. Voorts moet die jeug besef dis in so 'n verkiesing dat hulle stem gehoor kan word.
Die Covid-19-situasie stel bepaalde uitdagings. Al die politieke partye is egter in die verband in dieselfde bootjie. Wanneer kiesers hul kruisies gaan trek moet hulle nie kyk wat 'n politieke party belowe nie, maar wat hy vir kiesers kan doen.
Simmers en politiek
Simmers het sterk bande met George en die Tuinroete. Hy is meer as 21 jaar by die politiek betrokke en kom oorspronklik van Plettenbergbaai.
Hy het in 2019 die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings geword. As gevolg van sy werk as minister woon hy hoofsaaklik in Kaapstad, maar hy beskou George steeds as sy tuisbasis. "Ek is al 12 jaar gestasioneer in George."
In 'n party-politieke hoedanigheid het hy al verskeie poste beklee, onder meer streekjeugleier. Hy is in November 2020 onbestrede tot voorsitter van die DA se oosstreek verkies en is ook die DA se kiesafdelingshoof vir Hessequa.
Hy gaan die pos van voorsitter van die DA se oosstreek ontruim en sal binnekort 'n aankondiging in die verband maak. Dit beteken die pos gaan vakant wees en 'n nuwe voorsitter sal verkies moet word.
Nuwe burgemeesterskandidaat
Die feit dat Geordan Hill-Lewis aangewys is as die DA se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad beteken dat hy moontlik uit sy pos as een van die DA se kiesafdelings-hoofde vir George sal onttrek.
Volgens Simmers is daar interne party- prosesse wat eers gevolg sal moet word.
Die DA sal binnekort sy burgemeesters-kandidate vir die distriksmunisipaliteite en die B-munisipaliteite aanwys. Dit sal moontlik voor die einde van Augustus wees, wat sal beteken dat kiesers in George gou behoort te weet wie die party se burgemeesterskandidaat in die stad sal wees.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'