GEORGE NUUS - Die struweling tussen die voormalige Good-raadslid, Donovan Saptoe, en die Good-party, is nog nie verby nie.
Volgens Saptoe se regsverteenwoordiging word 'n deel van sy aansoek teen Good volgende jaar voortgesit, terwyl Good voortgaan met kriminele klagtes teen Saptoe en sy vrou, Roslyn.
Voordat die Good-party Saptoe se lidmaatskap op 1 Oktober beëindig het, was hy Good se verteenwoordiger in die distriksraad, asook die party se streekorganiseerder.
Hy was boonop gemoeid met Good se verkiesingsveldtog gedurende strawwe tussenverkiesings in Julie vanjaar.
Aansoek faal
'n Dringende aansoek van Saptoe aan die Wes-Kaapse hooggeregshof teen Good, om te keer dat hulle 'n vakature in die Tuinroete-distriksraad verklaar en vul, het egter gefaal. Die hooggeregshof het Saptoe se aansoek met koste afgewys.
"Die saak het my sover R30 000 uit die sak gejaag, maar geen geld is te veel om jou integriteit te beskerm nie," het Saptoe gesê.
Good se sekretaris-generaal, Brett Herron, het gesê Saptoe se lidmaatskap is beëindig nadat hy nie rekenskap kon gee oor R162 000 van die party se fondse vir die tussenverkiesingsveldtog nie. Hy het bevestig dat Ashwill Oktober van Dysselsdorp aangewys is om die vakature as Good-raadslid te vul.
Die dringende aansoek was die eerste deel van Saptoe se aansoek aan die hooggeregshof, en is verlede Donderdag 26 Oktober aangehoor.
Tweede deel
Die tweede deel van die aansoek, wat te doen het met die besluit van die Good-party se nasionale bestuurskomitee om Saptoe se partylidmaatskap te beëindig, sal volgens Saptoe op 'n latere stadium - moontlik begin volgende jaar - aangehoor word.
Hier vra Saptoe die hof om die nasionale bestuurskomitee se besluit te hersien en tersyde te stel.
Luidens terugvoer van Good het die hooggeregshof die hele aansoek van die rol geskrap, en die tweede deel van Saptoe se aansoek in aanmerking geneem met hul besluit.
"Indien Saptoe die Good-party se besluit om sy lidmaatskap te beëindig wil hersien en tersyde stel, is hy geregtig om 'n nuwe hooggeregshofaansoek te bring," het Herron gesê.
"Hy sal egter die hof moet oortuig dat die Good-leierskap se besluit om sy lidmaatskap te beëindig irrasioneel en onwettig was. Dit sal 'n moeilike saak wees om te argumenteer, aangesien Good 'n vrywillige organisasie is en lede instem om by die party se grondwet en waardes te hou."
Op 'n vraag aan die woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Eric Ntabazalila, of die tweede deel outomaties op die hofrol sal verskyn en of daar van vooraf aansoek gedoen moet word, het hy gesê die saak is siviel van aard. Hy het navrae na die onderskeie partye se regsverteenwoordiging verwys.
Volgens 'n regskenner, wat graag anoniem wil bly, is dit heeltemal moontlik om 'n saak wat van die rol geskrap is weer terug te plaas: "Veral in 'n saak soos die, waar die meriete nog nie aangehoor is nie."
Valke
Intussen is daar 'n kriminele saak teen beide Donovan Saptoe en sy vrou, Roslyn, geopen. Herron het bevestig dat Good 'n saak van bedrog en diefstal op 4 Oktober vanjaar by die Valke, die polisie se eenheid vir prioriteitsmisdade, teen die Saptoes geopen het. Dit word wetlik van ons vereis om beweerde bedrog- of diefstalsake, waar die bedrag R100 000 oorskry, by die DPCI aan te meld," het Herron gesê.
"Die Valke het die saak geregistreer en die registrasie aan ons gestuur op 30 Oktober. Hulle het ons ook versoek om dieselfde klagte by die SAPD in te dien, wat ons nou sal doen."
Op 'n navraag oor die saak aan die Valke, het lt.kol. Siyabulela Vukubi bevestig dat hulle nie self die saak ondersoek nie, aangesien dit buite hulle mandaat val. "Die klaer is aangeraai om die saak by die plaaslike polisiestasie te rapporteer," het hy gesê.
Nuwe adres
Saptoe het bevestig dat hy tot op hede nog geen dagvaarding ontvang nie. Volgens Herron het hulle gesukkel om 'n dagvaarding te beteken aangesien Saptoe getrek het. Hulle kon sy nuwe adres nou van die hofstukke bekom.
"Ek het ook my persoonlike prokureurs opdrag gegee om 'n dagvaarding teen hom uit te reik vir laster vir die vals verklarings wat hy versprei het met die kwaadwillige bedoeling om my reputasie te beskadig in afwagting van die stappe wat ons teen hom geneem het," het Herron gesê.
Saptoe het by navraag gesê hy sal 'n dagvaarding verwelkom: "Tot op hede weet ek nie van enige saak nie. Herron en sy faksie is hell bent om mense se lewens te vernietig met hul valse aantygings, waarvan daar nie bewyse is nie.
"Dis die eerste keer dat ek en my vrou, wat ook in hierdie saak betrek word, aan sulke behandeling blootgestel is. Sy was net ‘n vrywilliger wat my probeer help het. Ons het ons prokureurs opdrag gegee om die aantygings te beveg. Ons neem Good hof toe hieroor."
Klagtes
Volgens Saptoe is sy lidmaatskap beëindig kort nadat hy klagtes teen Herron aanhangig gemaak het.
"Oor Good se redes vir die beëindiging van my lidmaatskap, naamlik die R162 000 waarvoor ek glo nie kan verantwoording doen nie, en instruksies wat ek blykbaar verontagsaam het, sal net Good weet waar hulle hieraan kom."
"Good is op pad na 'n konferensie op 10 en 11 November in die Kaap. Hierdie is ‘n baklei van Brett Herron en sy faksie om beheer te behou oor Good. Deel van my klagtebrief is ‘n versoek om Herron intern te ondersoek vir klagtes oor R900 000 wat nie verklaar is nie. Herron is ’n lid van die parlement en is veronderstel om eerlik te wees."
Herron het voorheen hierdie aantygings afgemaak as wensdenkery en lasterlik, en aangedui hy gaan regstappe teen Saptoe hieroor neem. Janke Tolmay, die Good-party se mediabestuurder, het bevestig dat die beëindiging van Saptoe se lidmaatskap alleenlik geskied het weens sy onvermoë om rekenskap te gee van die partyfondse van R162 000.
Brett Herron
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’