GEORGE NUUS - Good-raadslid Donovan Saptoe, wat dié party se verkiesingsveldtog tydens die Julie-tussenverkiesings bestuur het, se lidmaatskap aan die Good-party is Sondag 1 Oktober beëindig.
Hierdie besluit volg 'n rapsie meer as vier maande nadat die party vir Saptoe met ope arms in Mei terugverwelkom het, na 'n kort wegbreek van Good. Saptoe het ook sy party in die distriksraad as raadslid verteenwoordig.
In 'n verklaring deur Good se nasionale voorsitter, Sam Shabane, word aangevoer dat Saptoe versuim het om rekenskap van R162 000 van die party se fondse te gee. Volgens Saptoe, moes hy in die media hoor dat hy nie meer 'n lid van die party is nie.
"Ek betwis die beëindiging van my lidmaatskap, want dit was onkonstitusioneel," het Saptoe gesê.
Shabane het gesê dat 'n oudit na die verkiesing daarop dui dat R162 000 van die veldtog se begroting nie verreken is nie. Hy voer boonop aan dat verskeie verskaffers wat dienste tydens die veldtog gelewer het, en volgens Saptoe reeds betaal is, egter nié betaal is nie.
"Die party moes hulle weer betaal," het Shabane gesê.
Saptoe en sy vrou, Roslyn Saptoe, word nou deur Good gedagvaar.
"Ten spyte van verskeie beloftes om die R162 000 te verantwoord, kon Saptoe en sy vrou dit nie doen nie, of het hulle versuim om dit te doen," het Shabane gesê.
Good is ook van plan om die saak by die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad, die Valke, aan te gee.
Goeie tydsberekening
"Ek het Vrydag klagtes teen Herron gelê en Sondag is ek gefire in die media," het Saptoe by navraag gesê. Die beëindiging van sy lidmaatskap kom letterlik twee dae nadat hy op Vrydag 29 September klagtes teen die party se sekretaris-generaal, Brett Herron, aanhangig gemaak het.
"Ons was nog al die pad in gesprek oor die R162 000, en moes nog koppe bymekaar sit oor waar die fout gekom het, toe ons gedagvaar word. Volgens ons berekeninge is daar nie fout aan ons kant nie, maar ons het 'n paar dinge uitgewys wat hulle steeds nie reggemaak het nie," het Saptoe gesê.
"Die klagtes teen Herron is baie ernstig en moet intern ondersoek word. Dit gaan onder meer oor die party se befondsing, waarvan R900 000 glo nie by die OVK verklaar is nie. Die partylede moes hiervan in die media hoor. Niks van die inligting is met die lede van Good gedeel nie. Hulle antwoord op my versoek om die saak intern te ondersoek is om my lidmaatskap te beëindig."
Volgens Saptoe is sy vrou, Roslyn, besig om regsadvies in te win, en wil sy nie op hierdie stadium kommentaar lewer nie.
"Dit is belangrik om in ag te neem dat Good se rekenmeesters ook raadslede is - nou sê jy vir my waar is die objektiwiteit?" het Saptoe gesê.
Volgens hom gebruik Herron die party se hulpbronne om van sy politieke opposisie ontslae te raak.
"Ons konferensie is die 10de en 11de November. Herron moet hier rekenskap gee oor die party se finansiële status. Hulle wou my uitwerk voor die nuwe leierskap gekies word."
Good se sekretaris-generaal, Brett Herron
Twee dagvaardings
Herron het by navraag gesê dat Saptoe se klagte gevolg het nádat hy op 12 September 'n brief van die party se prokureurs ontvang het.
"Hy is meegedeel dat, tensy hy rekenskap kan gee vir die vermiste R162 000, die party teen hom sal optree. Hy wou duidelik deur sy brief, wat op 29 September gestuur is, die party verhoed om teen hom op te tree.
"Dit is wensdenkery en lasterlik. Hy sal twee dagvaardings kry - een vir die geld waarvoor hy nie kan rekenskap gee nie, en een vir laster," het Herron gesê.
Janke Tolmay, die Good-party se media-bestuurder, het bevestig dat die beëindiging van Saptoe se lidmaatskap alleenlik geskied het weens sy onvermoë om rekenskap te gee van partyfondse van R162 000.
"Good verwag van al sy lede om aan dieselfde hoë standaard waarvoor die wet en die party se Grondwet voorsiening maak te voldoen," het Tolmay gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’