GEORGE NUUS - Good-raadslid Donovan Saptoe het gisteroggend uit sy party bedank. Luidens sy brief aan die Good-party se leierskap, is sy bedanking van krag vanaf 30 April.
Saptoe was die party se streekwoordvoerder en het as skakel proporsionele raadslid in die George-raad gedien.
"Dit was geensins 'n maklike proses om tot hierdie besluit te kom nie, aangesien ek instrumenteel was in die bou van die Good-party in George en in die streek," het Saptoe in sy brief gesê.
Hy noem in sy bedan-kingsbrief dat die plaaslike tak van die Good-party met verskeie kwessies oor die laaste paar maande gesukkel het, waarvan die meeste onopgelos is.
Hy verwys na die sukses wat Good tydens die plaaslike verkiesing van 2021 behaal het met hul oorwinning van drie wyke. Saptoe verwys na Good as die derde grootste party in die Suid-Kaap.
"Ons het daarin geslaag om die DA-steun tot onder 50% te verminder en het hulle tot 'n koalisie-ooreenkoms met die VF Plus gedwing."
Min hulp
Volgens Saptoe het die plaaslike lede van Good nie die nodige ondersteuning van die party ontvang om die gemeen-skappe ten volle te dien nie. Hy verwys na 'n gebrek aan finansiële hulp vir gemeenskapsprojekte en regsake, asook besluitnemingsprosesse wat die plaaslike koukus uitsluit.
"'n Raadslidsalaris is eenvoudig nie genoeg om hierdie wyke te bedien terwyl hulle terselfdertyd ook gesinsverpligtinge het nie," lees sy brief.
"In sulke omstandighede is dit duidelik dat daar 'n uitreik na die party sal wees vir finansiële bystand as 'n manier om van die druk te verlig. Soos u weet, was dit ons stryd. Miskien is Good tevrede met die proporsionele-komplimente en het geen behoefte gevind vir die ekstra myl om armoede te help en te verlig met een of ander armoedeverligtings-program in die George-wyke nie. As 'n aktivis het ek self hierdie toedrag van sake ontmoedigend en teen my beginsels gevind."
Volgens Saptoe het Good tot op hede nog nie daarin geslaag om hoëprofielsake binne sy geledere na een jaar af te handel nie, maar het hulle wel twee George-raadslede binne 'n kort tydjie afgedank.
"Die vervangingsproses van daardie raadslede word uitsluitlik deur die Good-leierskap in Kaapstad gekies sonder om die plaaslike Good-koukus te erken of te raadpleeg," het Saptoe aan sy leierskap geskryf.
Op 'n navraag oor Saptoe se bedanking het Brett Herron, sekretaris-generaal van Good, gesê sy bedanking is telleurstellend. "Geen party hou daarvan om lede te verloor nie en veral diegene wat openbare ampte beklee en wat tot ons suksesse bygedra het," het Herron gesê.
"Ons sou baie graag wou hê dat hy aanbly, en 'n leidende rol speel in die 2024-verkiesingsveldtog en veral in die Tuinroete-distrik."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’