GEORGE POLITICAL NEWS - Ofskoon die munisipale verkiesing vir nuwe stadsrade eers aanstaande jaar plaasvind, en die datum nog nie bekend is nie, is politieke partye reeds hard aan die werk.
In politieke partye se kantore word al planne gemaak en die proses om kandidate aan te wys, is aan die gang.
DA
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê mense wat belangstel om onder die party se vaandel te staan kan reeds aansoek doen. Die party hoop om in die eerste deel van aanstaande jaar sy finale lyste bekend te maak. Baie sal afhang van die geproklameerde verkiesingsdatum. Volgens hom is daar tot dusver baie positiewe belangstelling van mense wat vir die DA wil staan.
ANC
Major Sikope, streeksekretaris van die ANC in die Suid-Kaap, het gesê die party is besig met die organisering van sy verkiesingstrukture. Die ANC-leierskap op nasionale vlak sal 'n aanduiding gee van wanneer die proses om kandidate aan te wys, sal begin.
Daar word reeds gewerk om die ANC se boodskap oor te dra. "Mense in die streek moet besef daar is 'n alternatiewe regering en ons werk reeds met die oog op die verkiesing."
VF Plus
Gert van Niekerk, Eden-streek-koördineerder van die VF Plus, het gesê die party is redelik ver gevorder met die opstel van kandidaatlyste vir wyke. Daar word gehoop om dié deel van die proses binne die volgende paar maande af te handel.
Mense wat belangstel om die party se vaandel as 'n kandidaat te dra, kan nog aansoek doen. Die party werk met die veronderstelling dat die verkiesing tussen Mei en Augustus in 2021 sal plaasvind.
ACDP
Johan du Toit, Eden-streekkoördineerder van die ACDP, het gesê die plan is om al die wykskandidate einde April 2020 aan te wys. Die ACDP sal kandidate stel in elke dorp en stad in die Wes-Kaap.
Die party wil sy wykskandidate vroeg aanwys, sodat kiesers sal weet wie hulle moontlik in stadsrade sal verteenwoordig.
Icosa
Dawid Kamfer, Icosa se Wes-Kaapse leier, het gesê die party hou einde April 'n provinsiale kongres. Die kongres sal 'n aanduiding gee waarheen die party op pad is en een van die agendapunte is die verkiesing. Gemeenskappe word reeds gevra om wykskandidate te identifiseer.
Icosa hoop om teen September al sy kandidaatlyste af te handel. Die Suid-Kaap is een van die hooffokuspunte en George word as belangrik beskou.
PBI
Virgill Gericke, PBI-leier, het gesê die party is reeds werksaam in gemeenskappe en dit word gesien as deel van die groter verkiesingsveldtog. Aankondigings oor kandidate sal later gemaak word.
EFF
Die EFF het by monde van sy Suid-Kaapse streeksekretaris, Mbulelo Magwala, gesê dit is moontlik dat die party einde Junie die name van al sy wykskandidate bekend sal maak.
Die EFF sal kandidate in elke dorp en stad en in elke wyk, stel.
Die kantore van die George-munisipaliteit waar die George-stadsraad ook sit. Die beheer van die stadsraad sal na verwagting een van die brandpunte in aanstaande jaar se munisipale verkiesing wees en politieke partye is reeds besig met voorberedings vir die verkiesng. Foto: Michelle Pienaar
Although the municipal elections is only taking place next year, political parties is already planning and working. Many of the parties have started with the process of naming ward candidates. In some cases voters will already have an indication in the next few months of who will be the ward candidates.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'