GEORGE NUUS - Dit is nou makliker om stemme te werf. Dit is die boodskap van politieke partye in George nadat pres. Cyril Ramaphosa tydens sy staatsrede aangekondig het dat Suid-Afrikaners op 8 Mei stembus toe gaan. Ofskoon algemeen verwag is dat kiesers in Mei hul kruisies sal trek vir die nasionale vergadering en die onderskeie provinsiale wetgewers, is daar nou sekerheid. Die verteenwoordigers het die aankondiging verwelkom.
Darryll Sauer van die ANC sê die party se beplanning is op datum en die aankondiging maak dinge makliker.
Die volgende drie maande gaan baie belangrik wees. Volgens hom het baie mense al klaar besluit vir wie hulle gaan stem. Gebeure op provinsiale vlak kan hulle egter laat besluit om hul stemkeuse te verander. Dit is faktore soos die hantering van die droogte in die Wes-Kaap en politieke woelinge in George.
Jaco Londt van die DA se oosstreek het gesê die party is baie opgewonde dat daar nou 'n datum is waarheen gewerk kan word. "Dit fokus almal se aandag op 'n belangrike datum. Ons is optimisties dat ons die beste premierskandidaat en 'n uitstekende diensleweringsrekord op provinsiale vlak het."
Virgill Gericke van die PBI het gesê die verkiesingsdatum skep 'n groot mate van sekerheid. "Dit gee tydlyne vir ons programme en beplanning. Kiesers is meer entoesiasties. Daar is 'n groot hunkering na verandering. Hulle kan nie meer wag nie."
Johan du Toit van die ACDP het gesê kiesers weet nou dis in hulle mag om op 8 Mei die regering nasionaal en provinsiaal aan te wys.
Brendan Adams van Icosa sê mense weet nou waarheen om te mik. "Sedert die aankondiging is dit makliker om werwing te doen en mense is meer entoesiasties."
Adv. Gert van Niekerk van die VF Plus het gesê die party se beplanning was met die veronderstelling dat die verkiesing vroeg in Mei sal plaasvind. "Die groen masjien klop op al agt silinders."
Sedert die aankondiging is kiesers meer entoesiasties. Daar is egter nog kiesers wat vra wat dit help om te stem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'