GEORGE NUUS - Stadsraadslede in die opposisiebanke is op die oorlogspad. Hulle eis antwoorde oor die besetting van die raadsaal kort voor verlede Donderdag, 28 November, se beplande maandelikse stadsraadsvergadering. Dit het beteken dat die vergadering uiteindelik uitgestel moes word.
Gegriefde inwoners van Thembalethu het die raadsaal die oggend beset. Hulle was ongelukkig omdat hulle vir krag betaal het en dit afgesny is.
Die vergadering vind nou vandag (Donderdag 5 Desember om 9:00) plaas. Dit is deur Gerrit Pretorius, die speaker, bevestig.
Pretorius het die situasie verlede Donderdag probeer ontlont en na konsultasie met swepe van die partye, die vergadering uitgestel. Hy het toe verduidelik dat hy nie wou bydra tot die konflik nie en het probeer beredder wat hy kon. Na bewering het die inwoners toegang tot die raadsaal verkry met die hulp van 'n ANC-lid. Die ANC het dit ontken.
In die wandelgange van die munisipaliteit word gefluister dat die vergadering doelbewus uitgestel is omdat politieke partye nie wou hê die tugkomitee se aanbevelings oor Trevor Botha, die munisipale bestuurder en Steven Erasmus, direkteur beskermingsdienste, moes oorweeg word nie.
Ontstoke raadslede het Maandag aan die George Herald gesê dit is onaanvaarbaar. Hulle het simpatie met inwoners wat ongelukkig is oor dienslewering, maar vind dit vreemd dat die vergadering nie kon voortgaan nie. Dit het 'n presedent geskep en plaas vraagtekens oor die veiligheid van raadslede en amptenare. Sover bekend is dit die eerste keer dat so iets in George gebeur.
Opposisie partye ongelukkig
Virgill Gericke, PBI-leier, het gesê die inwoners het nie gekom om moeilikheid te maak nie. Volgens hom kon Pretorius en die waarnemende munisipale bestuurder die inwoners vra om na 'n ander lokaal te beweeg.
Hy het gesê Pretorius se verskoning dat hy die situasie wou ontlont maak geen sin nie. "Die verantwoordelikheid is by hom om seker te maak dat die vergadering ongestoord voortgaan."
Gericke wou weet of dit beteken dat elke keer as iemand die raadsaal beset, die raadsvergadering nie sal voortgaan nie.
Piet van der Hoven van die ANC, het gesê die party vermoed die vergadering is doelbewus uitgestel. Daar was ander lokale beskikbaar waar met die gegriefde inwoners vergader kon word.
Wilbur Harris van Icosa het gesê dit was 'n ontwrigting van 'n raadsvergadering en die speaker moes die reëls toegepas het. "Met die gebeure is 'n presedent geskep."
Adv. Gert van Niekerk van die VF Plus het gesê die party veroordeel die voorval in die ergste graad en beskou dit in 'n baie ernstige lig. "Daar moet vasgestel word of iemand of mense gehelp het om toegang vir die inwoners tot die gebou te gee."
Johan du Toit van die ACDP, het gesê die uitstel van die vergadering het koste-implikasies en kan gesien word as vrugtelose uitgawes.
Van die gegriefde inwoners van Thembalethu kort nadat hulle die raadsaal verlaat het. Hulle wou nie dat hulle name gepubliseer word nie.
Speaker reageer
Gerrit Pretorius het Dinsdag gesê hy wag nog op inligting en beeldmateriaal van Donderdag se gebeure. Wanneer hy dit ontvang het, sal hy 'n besluit neem oor moontlike verdere optrede. Veiligheidsmaatreëls by die raadsaal gaan wel opgeknap word.
Hy het ontken dat die vergadering doelbewus uitgestel is. "Ek wou die situasie ontlont en het prosedures nagekom."
Pretorius het benadruk dat vandag, Donderdag 5 Desember, se vergadering beslis sal voortgaan.
Wetstoepassing verduidelik
Hoof van wetstoepassing Richard von Willigh sê 'n klein groepie inwoners van Thembalethu (10) het Donderdag 28 November, net voor die raadsvergadering om 10:00, in die raadsaal ingekom en gaan sit. Die gesprekke wat met hulle gevoer is, was lank en daarom is die raadsvergadering uitgestel. Die saak word ondersoek en veiligheidsmaatreëls sal hersien word.
Die groep was in geen stadium oproerig of ‘n bedreiging vir ander mense nie.
Ingevolge die veiligheidsreëlings vir besoekers wanneer die raadsvergaderings gehou word, word lewendige kringtelevisiebeeldmateriaal na een van die kleiner sale in die burgersentrum uitgesaai.
Mense wat hierdie vergaderings wil bywoon, word na die burgersentrum verwys sodra hulle die rede by sekuriteit by die ingang van die hoofgebou bevestig het. Die redes wat die besoekers aan die sekuriteitspersoneel aangevoer het, word ondersoek.
Volgens hom word enige moontlike oortredings of bedreiging van veiligheid by die infrastruktuur van die raad ondersoek. Enige verdere aksies sal bepaal en geïmplementeer word nadat die ondersoeke afgehandel is.
Op die vraag of ‘n raadslid die mense gehelp het om die gebou en raadsaal te betree het hy geantwoord: “Die voorval word ondersoek en sodra dit afgehandel is, sal bepaal kan word of enige verdere aksie nodig is.”
Die sekuriteit is in die afgelope maande reeds opgegradeer en veiligheidsmaatreëls word voortdurend hersien.
Members of opposition parties are demanding answers after the monthly council meeting was postponed last Thursday. Residents of Thembalethu occupied the council chambers just before the start of the council meeting at 10:00. They were upset that their electricity had been cut as a result of to protests and damage to electricity infrastructure, while they are paying residents.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'