GEORGE NUUS - 'n Tussenverkiesing vir inwoners van wyk 18 is weereens op hande, minder as 'n jaar na die vorige tussenverkiesing in April 2018. Hierdie wending volg na die bedanking van die DA-wyksraadslid, Jannie van der Westhuizen. Sy bedanking is effektief vanaf Maandag 21 Januarie.
Wyk 18 sluit 'n deel van Denneoord, Twee Rivieren, Bo-dorp, George-Oos, Denverpark en Loeriepark in. Die tussenverkiesing sal in alle waarskynlikheid voor die nasionale verkiesing in Mei, plaasvind.
Van der Westhuizen is verlede jaar as raadslid ingesweer na die bedanking van die vorige raadslid, Gert Niehaus.
Wyk 18 is histories 'n DA-wyk, maar die ondersteuning vir hul party het met die laaste tussenverkiesing in April 2018 met meer as 10% sedert die plaaslike verkiesing in 2016 gesak, toe hulle met 93,05% gewen het.
DA-kiesafdelingshoof, Andricus van der Westhuizen, het gesê die verwagting is dat die tussenverkiesing voor die algemene verkiesing sal plaasvind. Alle aanduidings is dat die algemene verkiesing êrens in Mei sal wees.
"Volgens Anthony Benadie van die DA provinsiale kantoor moet ‘n tussenverkiesing volgens wet binne 90 dae gehou word om die vakature te vul," het hy gesê.
Jannie van der Westhuizen het by navraag gesê dat hy as 'n konsultant in die onderwys 'n toenemende botsing van sy pligte en verantwoordelikhede as deeltydse raadslid ondervind en dat dit tot die besluit gelei het om as raadslid te bedank. "Ek het derhalwe besluit om die wyk, die raad, en die DA eerste te stel en as raadslid te bedank. Dit was 'n voorreg om die gemeenskap van George vir byna 'n jaar te kon dien, maar ek weet ook dat ek steeds 'n groot bydra op die onderwysterrein kan lewer, en 'n verskil kan maak," het hy gesê.
"Ek is onder andere nou betrokke by die bemagtiging van skoolhoofde, en werk ook tans aan 'n boek gerig op onderwysleiers in ons land. Ek is en bly 'n lojale ondersteuner van die DA, en weet dat dit die enigste party is wat werklik die uitdagings van ons land kan aanspreek. Ek betuig graag my dank aan alle rolspelers wat saam met my in wyk 18 gewerk het, en veral ook aan die buurtwagte met wie ek saamgewerk het, en wat wonderlike werk in ons dorp doen. My dank ook aan die DA-koukus, asook ander raadslede, vir goeie samewerking."
DA-streekvoorsitter, Jaco Londt, het gesê Jannie is die kaliber mens wat ongelooflike waarde toevoeg tot enige organisasie. "Dit is 'n reuseverlies vir die DA en vir George, dit is egter ook wonderlike geleentheid vir hom om sy kennis en ervaring terug te ploeg in die gebied waaraan hy sy lewe toegewy het. Ons bedank hom vir sy bydrae, sy volgehoue steun en hom alles van die beste toewens vir die pad vorentoe."
Andricus van der Westhuizen het sy spyt oor die bedanking uitgespreek, maar het bygevoeg dat die DA George baie dankbaar is vir sy volgehoue diens aan die gemeenskap en veral die onderwys.
"Die toekoms van Suid-Afrika en die gehalte van ons onderwysstelsel, is nóú verbind aan mekaar. Van der Westhuizen word algemeen erken as een van ons land se mees ervare onderwyskundiges. Dit is goeie nuus dat sy kennis van die onderwys ná sy uittrede as skoolhoof van Paul Roos Gimnasium in 2017, toenemend in aanvraag is. Ongelukkig het dit hom voor ‘n moeilike keuse gestel. As iemand wat alles wat hy aanpak met oorgawe doen, het ons groot begrip dat hy die onderwys eerste gestel het. Ons wens hom alle sukses toe en waardeer sy verbintenis om, waar dit vir hom moontlik is, die DA ook in die toekoms daadwerklik te steun.
"Die DA is gelukkig dat mense soos hierdie bereid is om as kandidate na vore te tree. Ons is vol vertroue dat ons, wanneer die tussenverkiesing afgekondig word, weer ‘n sterk kandidaat sal kan nomineer."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'