POLITIEKE NUUS - Gayton McKenzie, president van die Patriotic Alliance politieke party, is Maandag in Beaufort-Wes as burgemeester van die Sentrale Karoo-distrik ingesweer.
McKenzie is deur die KDF (Karoo Democratic Force) genomineer en het onbestrede gestaan vir die burgemeesterposisie nadat hy verlede week as raadslid ingesweer is.
Hierdie verwikkelinge volg nadat die party se burgemeester van Laingsburg, Mitchell Smith, onlangs uit die party bedank het as deel van 'n strategiese skuif deur die party. Smith sal volgens die party herontplooi word in 'n alternatiewe portefeulje.
Die ANC is tans in koalisie met die PA, Karoo Gemeenskap Party en Karoo Democratic Force om die munisipaliteit te beheer.
Dit is slegs die PA se tweede keer in hul relatiewe kort bestaan dat hulle 'n burgemeesterspos in enige munisipaliteit beklee nadat Smith in November verlede jaar die spreekwoordelike warm stoel vir die eerste keer opgeneem het.
Truman Prince, voormalige burgemeester van Beaufort-Wes se vrou, Thersh Prince (PA), is verkies as onderburgemeester van die distrik.
Marlon Daniels, nasionale voorsitter van die Patriotic Alliance, het aan Oudtshoorn Courant bevestig dat McKenzie beoog om geen salaris of enige voordele van die munisipaliteit te ontvang nie.