Update
GEORGE NUUS - Verskeie politieke partye het Maandag voor die George-landdroshof aan 'n plakkaatbetoging deelgeneem, teen die moontlike borgtogvrylating van die beskuldigde in die moord van 'n jong swanger ma van Conville, Leonie Williams (29).
Die DA en PBI was duidelik sigbaar met hul T-hemde, terwyl die ANC hier en daar van hul party se regalia vertoon het. Icosa het die betoging in gewone drag bygewoon.
"Ek voel daar is 'n tyd en plek vir alles. Ons is hier om die familie te ondersteun, nie om vir die tussenverkiesing te canvass nie," het Icosa-raadslid Theresa Fortuin gesê.
ANC-raadslid Langa Langa, het die DA daarvan beskuldig dat hulle die geleentheid gebruik om T-hemde uit te deel.
Volgens PBI-leier, Virgill Gericke, het partye alle reg om hul affiliasie aan 'n spesifieke party te toon, en is dit net suur druiwe van diegene wat hul T-hemde by die huis vergeet het.
DA-kiesafdelingsvoorsitter, Jackie von Brandis, het verduidelik dat die DA geensins besig was met werwing nie. "Van ons DA-aktiviste wat aan die optog wou deelneem het gevra of daar nog T-hemde beskikbaar is. Hulle wou netjies lyk vir die optog.
"Daar is toe T-hemde vir hulle by 'n voertuig, wat oorkant die pad geparkeer was, gegee. Hulle het dit daar aangetrek en het toe eers oorkant die pad beweeg na die optog."
Volgens Langa en Fortuin is daar onder die politici besluit om met die beskuldigde se formele borgtogaansoek op 27 Oktober slegs swart hemde te dra, maar nie almal blyk bewus te wees van so 'n ooreenkoms nie.
Dit is sowat twee weke voor die vier tussenverkiesings op 11 November, waaraan die DA, PBI en ANC deelneem.
Fortuin het bevestig dat Icosa hierdie ronde gaan uitsit en hulle eerder voorberei vir die plaaslike verkiesings van volgende jaar.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'