GEORGE NUUS - Die DA/VF Plus/ACDP-koalisie in die George-stadsraad is weer op koers nadat daar spanning ontstaan het oor 'n klaarblyklike misverstand.
Die VF Plus en die ACDP was ongelukkig omdat hulle nie geken is die aanbieding van die Pride Parade nie. In verklarings en advertensies van die aangeleentheid is aangevoer dat die munisipaliteit dit aangebied het.
Die VF Plus en ACDP was nie gelukkig daarmee en het antwoorde geëis.
Adv. Gert van Niekerk, VF Plus-raadslid het Maandag by navraag bevestig dat gesprekvoering tussen die koalisievennote plaasgevind het. Dit sal voortgaan en hy het benadruk die skip is op koers.
Hy het gesê wat hom betref, is enige organisasie welkom om 'n optog in George te hou mits so 'n organisasie die neergelegde prosedurele kanale volg.
Die VF Plus respekteer die grondwetlike reg van organisasies. Die party het geen beswaar teen die parade per sé nie.
"Ons is van mening dat dit nie die taak van die munisipaliteit is om sodanige geleenthede aan te bied sonder die raadpleging van die koalisievennote nie. Ons is uit die kantoor van die munisipale bestuurder meegedeel dat die munisipaliteit nie die aangeleentheid aanbied nie, maar wel sekere ondersteuning verskaf ingevolge 'n memorandum van verstandhouding wat twee jaar gelede tussen SHE en die destydse beheerde DA-regering tot stand gekom het."
"Dit is ook in lyn met voorskrifte van Salga vir hierdie tipe organisasies. By implikasies is die advertensies wat oor die parade geplaas is en waarin die George-munisipaliteit as aanbieder vertoon word dus wat my betref nie korrek nie. Die VF Plus en ACDP is tevrede met die verduideliking."
Johan du Toit, ACDP-raadslid, het Dinsdag by navraag ook bevestig dat die koalisie weer op koers is. Hy het benadruk dat nog gesprekke tussen die ACDP, die VF Plus en die DA gaan plaasvind.
Leon van Wyk, George-burgemeester en DA-lid het gesê die aangeleentheid is deeglik bespreek en dat almal tevrede is.
Johan du Toit, Leon van Wyk en Gert van Niekerk. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'