GEORGE NUUS - Die DA se gekose kandidaat vir wyk 27, Ou Pacaltsdorp, vir die komende tussenverkiesing op 19 Julie, het Maandagaand onttrek.
Fernando Fredericks het op die nippertjie uit die stryd getree, waarna die DA Dinsdagoggend blitsvinnig hul nuwe kandidaat, Marchell Kleynhans, aangekondig het.
Politieke partye is tot Dinsdag 27 Julie kans gegun om kandidate vir wyk 27 te registreer. Die sluitingsdatum vir registrasie vir die ander twee wyke (16 en 20) was Maandag 26 Julie.
In hul verklaring Dinsdagoggend het Venolea Fortuin, voorsitter van die DA se Oosstreek, gesê hulle is vol vertroue dat Kleynhans die gemeenskap met integriteit en toewyding sal dien en dat hulle as DA daarna uitsien om in die komende tussenverkiesing suksesvol mee te ding.
Fortuin verwys na die gebeure as "soortgelyk aan wat 'n paar weke gelede in Gauteng afgespeel het, waar 'n DA-kandidaat na bewering deur die Good-party en PA genader is en 'n ooreenkoms met die kandidaat aangegaan het in ruil vir hul onttrekking."
Fortuin noem dit 'n "mafia-taktiek en politieke manipulasie wat die vertroue van kiesers verraai en die grondwetlike beginsels van vrye en regverdige verkiesings ondermyn".
Gesprekke met sy vrou
In 'n verklaring op sy eie Facebook-blad het Fernando Fredericks egter verduidelik dat die besluit om te onttrek volg na vele oorwegings en gesprekke met sy vrou.
Fredericks het gesê dat hy homself wil distansieer van alle vorme van politiek: "Ek moes die besluit neem om myself te onttrek van politiek as gevolg van die volgende redes: my familie, my geestesgesondheid, my fisiese gesondheid en my Christelike waardes. Rede vir dit is dat my familie die afgelope tyd onder geweldige druk geplaas het, soveel so dat ek baie min tyd saam met hulle spandeer het.
Ek blameer niemand anders as myself vir bogenoemde nie. Ek vra nederig om verskoning vir elkeen wat geraak word deur my besluit, op die ou einde van die dag gaan dit oor my familie en myself."
Fredericks bedank die DA vir die geleentheid wat hom gebied is en vir alles wat hy die afgelope tyd geleer het.
"Wyk 27 sal altyd in my hart wees en ek sal altyd my beste vir die gemeenskap gee. Ek glo ons sal 'n goeie leier kies vir bogenoemde wyk."
Fredericks het ook aangedui dat hy geen verdere kommentaar oor die aangeleentheid gaan lewer nie. In sy laaste plasing Dinsdag, het Fredericks vir Marchell Kleynhans gelukgewens as "beste opvolgkandidaat vir wyk 27".
Die foto van Marchell Kleynhans wat op Fredericks se Facebook-blad verskyn, waar Fredericks hom gelukwens as "beste opvolg kandidaat vir wyk 27".
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’