GEORGE NUUS - Diefstal en vernietiging van verkiesingsplakkate is steeds 'n groot kopseer. Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) en die Demokratiese Alliansie (DA) het beide sake van diefstal geopen nadat 16 plakkate (9 DA; 7 VF Plus) voete gekry het.
'n Man (35) is verlede Donderdag in hegtenis geneem en het Maandag in die hof op aanklag van diefstal verskyn.
Die saak is uitgestel tot 5 November.
André Buitendag, die Vryheidsfront Plus-kandidaat vir George-Suid, het verlede Donderdag inligting ontvang dat iemand besig is om plakkate in Hoop- en Newtonstraat te verwyder: "Ek het die buurtwag in George-Suid laat weet en gevra hulle moet 'n ogie hou. Hulle het die ou gekry met 'n waentjie en al die borde, in Hoopstraat. Die polisie is verwittig en hulle het hom kom haal. Ek is saam na die stasie om die klag te lê."
Sean Snyman, die DA se kandidaat vir George-Suid, het bevestig dat hy ook 'n klag van diefstal gelê het.
Volgens Buitendag het die polisie hul plak-kate terugbesorg. Nuwe plakkate is intussen op die lamppale in Hoopstraat aangebring.
"Die skade is eenvoudig te groot, ons moes 'n klag lê," het Gert van Niekerk, leier van die VF Plus, gesê. "Ons hoop dit dien as afskrikmiddel vir ander wat soortgelyke gedagtes het. Die saak is nou in die staat se hande. Ek weet uit die verlede dat die borde vir isolasiemateriaal in plakkershutte gebruik word, maar dis blatante diefstal.
Sommige politici vermoed dat die soort gedrag deur ander politieke partye aangemoedig word.
Volgens Van Niekerk is die vandalisme van verkiesings-plakate dubbel so erg as in 2016: "Met die laaste verkiesing is ons borde nie vernietig en in stukkies opgebreek nie. Deesdae sien ons dit oral gebeur, deur die hele George. Ons sal werklik met 'n volgende verkiesing dit in oorweging moet neem of ons weer plakkate sal opsit."
Hierdie bord van wyk 22, in Herold, is in flarde geskeur. Die soort vandalisme gebeur regoor George. "Ek beskou dit as morele verval," het Gert van Niekerk gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'