Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die katrolwerk om dié grote aan die lyn te hou was alles die moeite werd. So het Stamhoof Brendon Adams, 'n nasionale bestuurslid van Icosa, gesê tydens die bekendstelling van hul nuutste toevoeging tot die politieke party.
Theresa Fortuin, 'n Icosa-raadslid van die Garden Route munisipale raad, was ook Dinsdag by om die nuus met die George Herald te deel.
Zinzan Dorfling (23), voorheen 'n lid van die Vryheidsfront Plus en dié party se burgemeesterskandidaat vir Oudsthoorn in die 2016-verkiesing, dra nou sy rooi T-hemp met trots. As die seun van Leon Dorfling, 'n destydse Eden-burgemeester (nou die Garden Route-distriksmunisipaliteit), het Zinzan Dorfling in 'n huis grootgeword waar politiek deel was van sy opvoeding.
Adams het gesê Dorfling is 'n nasiebouer en 'n samebringer van die minderheidsgroepe.
"Hierdie is om vir die breë gemeenskap te wys hoe belangrik dit is dat die bruin en wit gemeenskappe begin om hulself, sowel as 'n groter stem, binne die politieke arena te vind."
Kyk 'n video hieronder:
Dorfling het gesê hy is sedert 2016 in gesprek met Adams.
"Die besluit het finaal oor die naweek gebeur, ek het besluit dit is nou die tyd. Ek dink ek lyk baie beter in rooi as in groen!"
Hy het gesê dit is belangrik dat die jonger generasie eienaarskap neem van wat om hulle gebeur en deelneem aan die politiek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'