Update
GEORGE NUUS - Op die vooraand van groot skuiwe binne die George-raad het die DA-raadslid Gert Niehaus bedank.
Niehaus het Dinsdagoggend sy bedanking uit die politiek op sosiale media aangekondig.
In sy skrywe aan die George-burgemeester, Melvin Naik, bedank Niehaus nie slegs as raadslid nie, maar ook uit die DA-party.
Niehaus was die wyksraadslid van wyk 18 (deel van Denneoord, Denverpark, Loeriepark), wat beteken dat 'n tussenverkiesing binnekort in die wyk sal plaasvind.
Niehaus is een van die vier burgemeesterskomiteelede wat hul poste kwyt is na 'n afkondiging deur die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, einde verlede jaar.
Niehaus is deur die DA ondersoek in verband met 'n voorval waarin hy en 'n mede-burgemeesterskomiteelid, Johan Stander, oor 'n parkeerplek slaags geraak het. Meer onlangs was hy in die visier van die DA se federale regskommissie vir nog drie sake teen hom.
Met sy bedanking uit die DA sal hierdie ondersoeke nie voortgaan nie.
Niehaus het by navraag aangedui sy besluit om uit die politiek te tree het niks te doen met die skuiwe in die raad en die ondersoeke teen hom nie.
"Dit is 'n persoonlike besluit in belang van familie. Dit het niks daarmee te doen nie," het hy gesê.
Gert Niehaus tydens 'n raadsvergadering verlede jaar.
In sy boodskap aan die publiek sê Niehaus hy het lank gewik en weeg oor 'n groot besluit wat hy moes neem:
"Ek vra asb. dat julle my besluit sal respekteer. Ek het vandag my bedanking ingedien en finaal klaar gemaak met politiek. Dankie vir elkeen se ondersteuning en omgee in my tyd as raadslid.
"Dit is belangrik dat ek 'n slag aan myself en familie sal dink en meer tyd met hulle spandeer en doen wat die beste vir ons as familie is.
"Nogmaals dankie, lief julle almal en alles wat mooi is vir toekoms."
George se politieke hoof, Tertuis Simmers, het bevestig dat hy van Niehaus se bedanking kennis neem.
"Hy het die DA gedra van 2011 tot vandag. Ons bedank Gert vir sy getroue en gewaardeerde bydrae tot die ontwikkeling en bystand van die gemeenskap van George," het Simmers gesê.
'n Skermgreep van Gert Niehaus se boodskap aan die publiek wat op WhatsApp en verskeie Facebook-groepe versprei is.
"So ook vir sy trotse verteenwoordiging van die kiesers van wyk 18, waarvan hy die wyksraadslid was. Ons wens Gert, sy vrou en kinders 'n voorspoedige pad vorentoe."
In verband met die tussenverkiesing het Simmers gesê twee prosesse gaan nou plaasvind.
"Die munisipale bestuurder moet die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in kennis stel dat daar 'n vakature bestaan. Daarvolgens sal die OVK 'n datum skeduleer.
"Intussen sal die DA se interne prosesse voortgaan sodat ons 'n geskikte kandidaat kan identifiseer wat aan die tussenverkiesing gaan deelneem.
"DA George gaan binnekort die proses vir lede van die party, insluitend dienende proporsionele raadslede, open om hulself beskikbaar te stel."
* DA Councillor Gert Niehaus resigned as councillor and from the DA party on Tuesday morning. A by-election will soon take place in Ward 18, where Niehaus served as ward councillor. Niehaus wrote in a Facebook post about his decision to resign, saying that he had thought hard and long about it, and that it was a personal decision for the benefit of his family.
Niehaus is one of four mayoral council members who lost their posts following an announcement by the Western Cape Minister of Local Government, Anton Bredell, at the end of last year. He was also investigated by the DA regarding several cases against him. In the light of his resignation, these will not continue.
Lees 'n vorige artikel: DA-raadslid bedank 'onmiddelik'
ARTIKEL & FOTO: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'