GEORGE POLITIEKNUUS - Die ANC-voorsitter van George, Darryll Sauer, het hom aan alle politieke aktiwiteite onttrek. Hy bly egter 'n gewone lid van die party. Sauer het die voorsitterspos die afgelope twee jaar beklee en was al van voor 1994 by die party betrokke.
Hy het by navraag gesê die vernaamste rede vir sy besluit was die dood van sy oudste seun, Lawrence (26) in Desember verlede jaar. Lawrence was 'n lid van die polisie en het gesterf in 'n ongeluk tydens opleiding in Thabazimbi.
"Ek het my lewe gaan herprioritiseer. Die lewe is kort."
Hy het bygevoeg dat die onlangse woelinge in die George-stadsraad ook bygedra het tot sy besluit.
Volgens Sauer is daar beweringe van korrupsie in die stadsraad/munisipaliteit. "Dit lyk of min mense hul teen die beweerde korrupsie uitgespreek het. Dit is oor partypolitieke grense heen."
Daar is voorts 'n opvatting by kiesers dat sommige raadslede daar is vir selfverryking eerder as om die gemeenskap te dien. Baie mense is ook ontnugter met politieke partye.
'n Bron van kommer vir hom is die algemene swak dienslewering in George en die behuisingskwessie.
Sauer het benadruk hy skeer nie alle raadslede oor dieselfde kam nie. Hy glo daar is raadslede oor die breë politieke spektrum wat in belang van die gemeenskap optree.
Ofskoon hy klaar is met partypolitiek, sal hy steeds gaan stem. "Ek sal gebruik maak van my demokratiese reg sodat daar verandering kan wees. As mens nie gaan stem nie, kan jy nie na die tyd kla nie."
Hy glo Suid-Afrika sal nooit vorder as daar nie samewerking is tussen al die gemeenskappe en rassegroepe nie.
Die gemeenskap lê hom na aan die hart en hy sal steeds help waar hy kan.
Hy gaan voortaan fokus op sy sakebelange en sy familieverantwoordelikhede.
Major Sikope, ANC-streeksekretaris in die Suid-Kaap, het gesê hy dra nog nie kennis van Sauer se bedanking nie. As dit korrek is, sal daar bepaalde organisasie prosesse volg.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'