Update
GEORGE NUUS - Die DA het verras met sy keuses vir 'n proporsionele stadsraadslid in George en die kandidaat vir 'n wyk in 'n munisipale tussenverkiesing.
Dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer, betree die politiek en Brendan Adams, bekende gemeenskapsleier sal die DA se vaandel dra in die munisipale tussenverkiesing in wyk 17. Beide het sterk gemeenskapsbande.
Die tussenverkiesing sal moontlik in Augustus plaasvind en die wyk sluit Conville en Rosemoor in.
Dr. Dennis Farrell
Geordin Hill-Lewis, LP en mede-DA-kiesafdeligshoof het die nuus vroeg Dinsdagmiddag in 'n verklaring bekendgemaak. Luidens die verklaring is Farrell genomineer om die vakante proporsionele setel in die raad te vul. Hy is beskryf as 'n sakeleier met wye ervaring van die sakewêreld wat insluit menslike hulpbronnebestuur en die bestuur van 'n eie sakeonderneming.
Kort nadat die nuus bekend geword het, het die 63-jarige Farrell gesê dit gaan nie daaroor om die politiek te betree nie. "Dit gaan oor of ek 'n verskil kan maak en die bydrae wat ek kan lewer tot die breër samelewing."
Op die vraag hoekom die DA, het hy geantwoord: "Ek assosieer my met hul waardes."
Volgens hom het hy al 'n tydjie terug gedink hoe hy sy vaardighede tot voordeel van George kan aanwend. George het baie ekonomiese potensiaal. Volgens hom is dit belangrik dat die stadsraad en die sakegemeenskap saamwerk onder die leiding van Leon van Wyk, die burgemeester.
Brendan Adams
Brendan Adams
Hill-Lewis het gesê Adams is 'n gemeenskapsleier van uitnemendheid. Hy het voorheen diens gedoen as 'n brandbestryder in die voorste linies teen van die ergste brande die laaste dekade. Hy is ook 'n tradisionele leier (stamhoof) in die Khoi-gemeenskap. Baie mense ken Adams ook vir sy betrokkenheid by 'n blad op sosiale media, Lokasies Staan Saam.
Adams (43) het gesê hy het verlede jaar by Icosa bedank en was vir 'n jaar los van die politiek. "Ek het vir 'n jaar gedink oor wat my volgende stap gaan wees. Ek het gedink oor wat die beste voertuig is om die gemeenskap vorentoe te neem en by die DA gekom."
Hy het benadruk dat soos enige aspirant DA-kandidaat moes hy 'n streng keuringsproses ondergaan.
Hy besef sy aansluiting by die DA kan in sekere kringe omstrede wees. "Ek is baie gemeenskapsgedrewe en my styl is om reguit te praat."
Dit gaan nie vir hom net oor die bruin gemeenskap nie, maar oor die breër gemeenskap. "Daar is nuwe politieke energie in George en die stadsraad nodig."
Hy het alle jong aktiviste aangemoedig om by die politiek betrokke te raak.
Adams het gesê hy gaan steeds die aanspreekvorm van "stamhoof" gebruik want hy is 'n tradisionele leier.
*Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê die party is verheug dat mense van Farrell en Adams se kaliber bereid was om hul name in die hoed te gooi en betrokke te raak om die groter George te dien. Dit kan positief wees op die kort- en langtermyn vir die Suid-Kaap.
Dr. Dennis Farrell
George Business Chamber reacts to Dennis Farrell resignation
"It is with mixed feelings that the Board and Executive Committee of the George Business Chamber bid Dr. Dennis Farrell farewell. He has valiantly led the Chamber in the drive to execute fundamental strategy plans for the development of an inclusive and sustainable economy in George and the Garden Route. His sincere resolve, commitment and capabilities have positioned him well to successfully fulfil his role within the municipality as a councillor. His astute business acumen will provide insight and wisdom to strengthen the Integrated Development Plan of the George Municipality and we wish him every success in this new chapter of his life. We'd also like to thank him sincerely for his contribution to the positive changes that have been effected within the Chamber under his guidance."
Vorige artikel: Sakeleier gaan politiek toe
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'