GEORGE NUUS - Opposisielede van die George-raad eis dat DA-raadslede die kostes van 'n spesiale raadsvergadering self dek.
Die vergadering sou gister, 24 Januarie plaasvind, maar is ter elfder ure vir 'n tweede keer uitgestel na volgende Woensdag 31 Januarie.
Die DA sou tydens die vergadering hul nuwe kandidate vir die posisies van speaker, hoofsweep van die raad en drie burgemeesterskomiteelede voorstel.
Dit volg nadat die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, in Desember verlede jaar 'n aankondiging gemaak het dat sekere dringende skuiwe in die raad gaan plaasvind.
Hy het ook 'n forensiese ondersoek ten opsigte van verskeie plaaslike sake van stapel gestuur.
Die vergadering wat gister sou plaasvind, het die raad tussen R30 000 en R40 000 uit die sak gejaag, het Icosa-raadslid Wilbur Harris, tydens 'n perskonferensie gisteroggend gesê.
"Behalwe dit, hoeveel ure se werk is dit om so 'n dokument bymekaar te sit?" het ANC-raadslid Piet van der Hoven, gevra.
Die konferensie is deur die meeste van die opposisiepartye verteenwoordig.
Die EFF was egter nie na die vergadering genooi nie, en SAC-raadslid Bazil Petrus het nie die vergadering bygewoon nie. Die ANC, PBI, VF Plus, AIC, Icosa en ACDP was teenwoordig.
Opposisielede beplan om hul eie voorstel vir kandidate vir die posisie van speaker en hoofsweep van die raad in te dien. Sommige bespiegel dat dit moontlik die rede is waarom die vergadering uitgestel is.
"Wanneer daar twee of meer voorstelle op die tafel is moet 'n geheime stemming plaasvind," het PBI-raadslid Virgill Gericke gesê.
"Hulle vertrou nie hul eie raadslede om te stem vir hul aanbevole kandidaat nie."
Volgens 'n bron in die DA het die federale uitvoerende kommissie nog nie die plaaslike koukus se kandidate goedgekeur nie, en is dit glo die rede vir die uitstel.
ANC-hoofsweep, Nomawethu Jantjies, het haar misnoeë uitgespreek oor die selfoonboodskap wat swepe net na 22:00 Dinsdagaand bereik het, om hulle in kennis te stel dat die vergadering nie gaan plaasvind nie.
Opposisieraadslede van die George-raad.
Swepe het glo ook 'n oproep van die hoofsweep van die raad, Mxolisi Nyakati ontvang, om hulle van die verwikkeling in te lig.
"Hy het nie die reg om enige van ons direk te kontak om 'n raadsvergadering te kanselleer nie," het sy gesê. Volgens prosedure moet die speaker of die munisipale bestuurder 'n vergadering kanselleer.
Gert van Niekerk van die Vryheidsfront Plus het gesê dit is 'n "ope geheim" dat daar nog nie by die DA ooreenstemming is oor wie watter posisies moet beklee nie.
"Dus word die spesiale vergadering wat noodsaaklik is om gehou te word, gemanipuleer, om tyd te wen, om hul eie doelwitte te bereik."
Icosa-raadslid Wilbur Harris, het gesê die uitstel plaas ongelooflike druk op dienslewering.
Gericke het gesê die publiek ly skade as gevolg van hierdie oponthoud.
AIC-raadslid Abel Kiwit, het gesê die skuiwe wat Fedex gemaak het, was veronderstel om hul koukus uit te sorteer.
"Dit het die skeidslyne tussen hulle verdiep, want daar is geen vertroue onder hulle nie. George se belastingbetalers moet aan die einde van die dag die pak vat."
* The Special Council Meeting that was due to take place yesterday (24 January) was postponed for a second time to next Wednesday, 31 January. Whips of George Council were notified of the latest developments just after 22:00 on Tuesday evening. The election of a new speaker, chief whip of council and three mayoral members were on the agenda for the meeting. This follows after last year's announcement by the Western Cape Minister of Local Government Anton Bredell that certain urgent moves will take place in council. He also gave the green light for forensic investigations into several local issues and said it may lead to possible prosecutions.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'