GEORGE POLITICAL NEWS - Nog drie DA-raadslede van George se lidmaatskap is beëindig. Die wyksraadslede Edmund Bussack (wyk 14: Rosedale), Belrina Cornelius (wyk 27: Pacaltsdorp) en Dawid Willemse (wyk 8: Parkdene) het gister en Woensdag elkeen ‘n brief van hul leierskap ontvang om hulle in kennis te stel dat hulle nie meer welkom is by die party nie.
Hulle word 24-uur gegun om hierop te reageer. Die nuus volg kort op die hakke van Melvin Naik wat laas week gehoor het hy is uit die DA geskop en is sy amp as burgemeester kwyt.
Volgens DA streeksvoorsitter, Jaco Londt, is hul besluit oor die drie raadslede gebasseer op ‘n afdeling in die DA se federale grondwet wat lede van die party daartoe verbind om nie teenstrydig met ‘n koukus-besluit op te tree nie.
Cornelius, Willemse en Bussack het Maandag, tydens ‘n spesiale raadsvergadering, glo saam met die ANC teen die besluit gestem om die munisipale bestuurder, Trevor Botha, voorlopig te skors.
Verder het hulle nie hul stem vir die DA koukus-besluit gegee om die direkteur van gemeenskapsdienste, Walter Hendricks, voorlopig te skors nie.
Hulle het wel nou ‘n dag om te reageer op die brief en redes te verskaf waarom hulle as lede hertoegelaat moet word. “Die party oorweeg dan die heraansoek en sal besluit om dit te aanvaar óf nie,” het Londt gesê.
Bussack het by navraag gesê dat die brief nie ‘n skok was nie. “Ek het dit verwag,” het hy gesê. Bussack het reeds sy redes vir sy besluit aan die DA gestuur. “Ek wag op terugvoer van die party. Ek is nie nou gereed om kommentaar oor my redes te verskaf nie.”
Cornelius wou nie kommentaar lewer nie, en Willemse kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Willemse het vroeër die maand sy bedanking as DA-raadslid ingedien en sou die party in iedergeval aan die einde van Februarie verlaat. Indien die ander twee raadslede dieselfde paadjie volg, kan inwoners ‘n totaal van drie tussenverkiesings in die onderskeie wyke verwag.
Melvin Naik
Dit is nou amptelik – Melvin Naik is nie meer die burgemeester van George nie. Die provinsiale kantoor van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het bevestig dat hulle gister ‘n skrywe van George-munisipaliteit ontvang het, om hulle van die vakature in kennis te stel.
“Die proses om ‘n nuwe burgemeester aan te wys het reeds begin, nominasies sal binnekort aangevra word waarna ‘n kieskollege gaan plaasvind,” het Londt gesê.
“Dis ‘n oop proses en enige DA-lid mag aansoek doen. Indien die nuwe burgemeester vanuit die huidige koukus kom sal daar ‘n aparte proses gevolg word om ‘n nuwe proporsionele (PR)-raadslid te kies. Indien die nuwe burgemeester van buite die huidige koukus verkies word, sal hy/sy die PR-posisie opneem. Ons verwag dat die bogenoemde prosesse binne die volgende maand afgehandel sal wees.”
ANC vs Bredell
Intussen doen ‘n brief die rondte wat deur die ANC LP Cameron Dugmore aan die openbare beskermer gerig is. Dugmore beskuldig die minister van plaaslike regering, Anton Bredell, van onbehoorlike optrede en inmenging in ‘n administratiewe saak – die aanstelling van ‘n direkteur van korporatiewe dienste by George-munisipaliteit.
Bredell het twee jaar gelede, in Mei 2018, ‘n brief aan die DA-koukus gerig waarin hy hulle vra om te verduidelik hoekom hulle van die aanbeveling van die keuringspaneel afwyk. Dit blyk dat die koukus ‘n ander kandidaat in gedagte gehad het as die kandidaat wat deur die paneel aanbeveel is.
Die huidige pos word deur Siphiwo James beklee.
In die brief versoek Bredell die koukus om nie voort te gaan met die aanstelling “alvorens u toestemming van die Federale kantoor ontvang het nie”. Die DA provinsiale leier, Bonginkosi Madikizela, het op ‘n versoek om kommentaar geantwoord dat Bredell nie in enige amptelike regeringskapasiteit opgetree nie, maar eerder in sy hoedanigheid as provinsiale voorsitter van die DA, teenoor lede van die DA-koukus in George.
“Bredell het ‘n opdrag uitgevoer in lyn met die federale raadsregulasies van die party,” het Madikizela gesê.
Verwante artikels:
- Mayor Naik, if you please
- Municipal Manager and Director suspended
- More probes into 'war on waste'
- George council meeting in full swing
- DA suspends George mayor
- 'Prepare for a bombshell'
- DA caucus votes Naik must go
- DA accused of selective action after gunning for Mayor
- 'Dirty' money in war on waste
- DA lays criminal charges against Mayor, senior officials
- DA wants to suspend mayor following damning report
- Municipal investigations: Game of thrones
- MEC and MM lock horns
- Minister responds to statement by Municipal Manager
- Municipal Manager responds to investigation report
- Mayor welcomes investigation, Municipal Manager questions motives
- Bredell orders investigation into George Municipality
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'