GEORGE NUUS - Die ACDP gaan waarskynlik verras met sy kandidaat vir die munisipale tussenverkiesing in wyk 18. Die kans is glo goed dat Gert Niehaus die ACDP-vaandel gaan dra in die tussenverkiesing.
Niehaus was voorheen die wyksraadslid onder die DA-vaandel. Hy het die politiek verlede jaar vaarwel geroep, maar die afgelope paar maande was hy baie aktief in die ACDP.
Die wyk het onlangs vakant geraak na die onverwagse bedanking van die DA-wyksraadslid, Jannie van der Westhuizen.
Wyk 18 sluit in 'n deel van Denneoord, Twee Rivieren, Bo-dorp, George-Oos, Denverpark en Loeriepark. Die tussenverkiesing sal in alle waarskynlikheid voor die nasionale verkiesing in Mei, plaasvind.
Dit is nog nie bekend wanneer die tussenverkiesing gehou gaan word nie.
Van der Westhuizen is verlede jaar ingesweer as raadslid na Niehaus se bedanking. Wyk 18 is histories 'n DA-wyk.
Van der Westhuizen het vroeër by navraag gesê dat hy as 'n konsultant in die onderwys 'n toenemende botsing van sy pligte en verantwoordelikhede as deeltydse raadslid ondervind en dat dit tot die besluit gelei het om as raadslid te bedank.
Johan du Toit, voorsitter van die ACDP in George, het aan George Herald gesê daar is 'n "moontlikheid" dat Niehaus die ACDP-vaandel sal dra. 'n Amptelike aankondiging sal later gedoen word oor wie die ACDP-kandidaat gaan wees. Die ACDP gaan beslis aan die tussenverkiesing deelneem.
"Ek dink die ACDP het 'n goeie kans. As Gert ons kandidaat is, het ons 'n baie goeie kans. Gert het die wyk in die verlede met byna 95% van die stemme gewen. Die ACDP sien die tussenverkiesing as 'n voorbereiding tot die algemene verkiesing later vanjaar."
Niehaus het gesê hy was vir 'n jaar buite die politiek. "Ek het tyd gehad om te besin. Ek het besef God is die sentrum van my lewe. Die enigste politieke party waarin ek dit kan uitleef, is die ACDP."
Hy het laat verlede jaar lid van die ACDP geword.
Andricus van der Westhuizen, DA-kiesafdelingshoof vir George, het gesê die party se aansoeke vir kandidate het verlede Woensdag gesluit en drie aansoeke is ontvang. Die keuringspaneel sit die week. Die proses om die DA se kandidaat aan te wys kan vroeg in Februarie afgehandel wees.
Na verneem word gaan die VF Plus ook deelneem aan die tussenverkiesing.
Nomawethu Jantjies van die ANC het gesê die party het nog nie besluit of hy in wyk 18 gaan deelneem nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'