NASIONALE NUUS - Ten tye van die 2de Wêreldoorlog het Churchill iets soos die volgende gewaarsku “hierdie is nie die einde nie, nie eens die begin van die einde nie maar dalk net die einde van die begin!!!”
Die koronavirus hang nog steeds onheilspellend oor die hele wêreld en niemand weet regtig waarheen ons gaan nie.
Tussen die wêreld se grootste mediese kenners en regerings is daar meer verskille as ooreenstemming en selfs in dié tyd waar miljoene met hulle lewens kan boet, vind die politici tyd om met mekaar te verskil.
Wat weet ons nou reedsl? Die virus is oral en mense tel dit nou op sonder dat hulle weet vanwaar. Derhalwe is die trop nou blootgestel en die dra van maskers moet nou meer as die norm en as selfverpligtend beskou word.
Die normale maatreëls soos handewas, sosiale distansiëring en om nie aan mekaar en allerhande te goed vat nie, geld nog steeds. Een ding wat die mense nie lekker begryp nie, is die gevaar van samedromming by winkels en koopplekke. Probeer eerder om op daardie tye te gaan wanneer daar minder mense is en moenie uitgaan net omdat jy kan nie, maar net as jy moet!
Die beskermingsmaatreëls by hospitale en spreekkamers is uiters goed – hulle is ook banger dat die publiek hulle besmet as andersom. Ons regering, en veral ons president, doen die regte dinge en dwing elke dag meer en meer respek af.
Spreekkamers vra ook dat pasiënte met die maak van afsprake meer inligting oor simptome en omstandighede verskaf. Hulle gaan u koors buite neem, en indien u enige lugwegsiekte of koors het, u ‘n maskers laat dra en vra om u hande te was. Indien u enige verdagte simptome en tekens van die koronavirus het, gaan u direk sonder kontak met die geneesheer, na die COVID-19 sentrum verwys word.
Dit is ongelooflik dat sommige mense in hierdie tyd onststeld raak oor hierdie reëling, maar hulle moet maar net leer dat swak gedrag en uitbarstings nie ‘n aanvaarbare norm is nie.
Daar word dikwels gevra of dit nie sal help as alle bejaardes en chroniese siek pasiënte 'n skraagdosis van die TB BCG inenting ontvang nie. Tans is viroloë dit eens dat die antwoord “Nee” is.
Daar word tans wêreldwyd indringende en spoedeisende toetse gedoen om die waarde van die malaria-middel, Chlorokien, te bevestig.Die waarde van allerhande aanvullings, oumensrate, warm of koud word dikwels as evangelie verkondig – hoewel ek nie self daarvoor kan instaan nie, smaak van die heksebrousels heel lekker en dit kan seker nie skade doen nie – so 'n boegoe-brandewyntjie saam met Jamaika-gemmer, suurlemoen en rooibostee kan dalk net die slegte smaak van die Parachorie (en die virusse) verdryf
Wat wel baie waar is, is dat die wêreld, en meer spesifiek ons as Suid-Afrikaners, terug aarde toe gebring word - en dit is waar ons hoort en waar die beste uit ons gehaal kan word. Dalk kom die moeilike en onbeskofte mense agter hulle hoef nie elke dag geïrriteerd, onbeskof en bombasties te wees om asem te haal nie - dalk verdra, geniet en waardeer ons mekaar beter.
Dalk sal mense opmerk dat die lug skielik blouer en helderder is, dat rooi nog rooier is en dat mooi ook baie mooier is. Jy sal weer mossies hoor tjirp en duiwe hoor koer.
Dalk gaan ons minder ag slaan op knorpotte en moeilikheidsoekers wat teer op ander mense se pyn, tekortkominge, emosies en gebreke.
Dalk gaan base hulle werkers, en werkers terselfdertyd ook hulle werk , meer waardeer en in albei se belang hulle besighede saam tot vriendelike en suksesvolle ondernemings uitbou. Dalk gaan ons agterkom dat om waarde tot selfs die geringste van jou medemens se lewens toe te voeg, veel meer werd vir jou sal wees as jou groot bankbalans, hoë status, fris aandeleportefeulje en oordrewe selfbeeld..
Mense gaan beslis minder rondreis, minder gejaagd leef, minder verplig voel dat hulle en hulle kinders aan alles en nog wat hoef deel te neem en daardeur beter omsien na almal en alles om hulle.
Ons sien elke dag die wonderlikste omgee en selfopofferende gedrag tussen mense wat mekaar gister aan die keel wou gryp. Soos voorheen gesê, is die virus die groot Gelykmaker – ons almal het nou bekommernisse, ons almal besef nou hoe nietig ons is en hoe futiel die ewige gejaag na geld en status is.
Mense kom weer agter wie werklik hul naaste is en wat hulle verantwoordelikhede is. Ons visie word egter nie tot 'n tonnel vernou nie, maar die hartseer, swak omstandighede, pyn, behoeftes en bestaansreg van ook ander mense word beklemtoon en onder jou eie vergrootglas verbreed.
Meer spesifiek Oudtshoorn? Ons is om vele redes baie gelukkig hier – uitstekende hospitale, verpleegkundiges wat omgee, goeie fasiliteite maar die grootste bate bly die skoon oop lug, goeie ventilasie met sonlig, minder digte bevolking en 'n gemeenskap waardeur die bloed van baie vroeër ontberinge, hartseer en swaarkry bruis – dit maak ons 'n relatief homogene gemeenskap waaraan 'n virus twee keer sal dink voor hy vat aan ons sal wil kry!
STAAN VAS , STAAN SAAM, BID SAAM, GEE SAAM EN BLY SAAM BY JOU HUIS !!
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'