NASIONALE NUUS - Solidariteit Helpende Hand waarsku teen mense wat in die Covid-19-pandemie munt uit mense se goedhartigheid wil slaan.
“Te midde van dié krisis is dit net menslik om jou medemens te wil help. Sommige buit ongelukkig die situasie uit,” sê René Roux, adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie vir Solidariteit Helpende Hand.
Volgens Roux moet die publiek seker maak die instansie wat hulle wil ondersteun is geloofwaardig en dat niemand onder valse voorwendsels vir dié instansie sogenaamde liefdadigheidswerk doen nie. “As jy ’n skenking wil maak, doen navorsing oor die instansie - ’n vinnige Google-ondersoek behoort baie oor die instelling te sê. As daar individue is wat hulself as verteenwoordigers voorgee, maak seker hulle werk wel by die organisasie deur die persoon se naam, van en ID te versoek en by die betrokke instansie navrae oor dié persoon te doen,” sê Roux.
Roux waarsku dat Helpende Hand nooit skenkings of hulpverlening sal versoek sonder om sy amptelike korporatiewe identiteit op dokumentasie of sosiale media-plasings te gebruik nie. Hulle moedig die publiek aan om vir Helpende Hand se kenteken op alle kommunikasie uit te kyk as hulle ’n skenking oorweeg. “Indien jy enigsins onseker voel is jy welkom om ’n e-pos aan diens@helpendehand.co.za te stuur.”
Helpende Hand saam met die groter Solidariteit beweging het onlangs sy www.krisisfonds.co.za van stapel gestuur. Die doel is om te sorg dat leerders tydens die inperkingstyd deur Wolkskool tuisonderrig kan ontvang, asook om behoeftige mense met maatskaplike ondersteuning by staan.
Helpende Hand het ook verskeie voedingskemas soos Josef Silo’s, Houers VOL Hoop, #StopHonger, die Kosblikkie-projek en #HelpJag. Die instansie se amptelike bankbesonderhede is op www.helpendehand.co.za
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'